GEORGE NUUS - Asof dit nie genoeg is dat besighede ongekende uitdagings van 'n Covid-19-ekonomie in die gesig staar nie, moet hulle ook voortdurende misdaad en besoedeling van hul omgewing op een of ander manier hanteer.
Dit blyk dat baie haweloses wat nie van die beskikbare fasiliteite gebruik wil maak nie, terugkeer strate toe en weer plek-plek tydelike skuilings aanmekaarlap op winkelstoepe.
'n Winkeleienaar in Van der Stelplein, Marius Faure, sê hy is raadop met misdaad en futiele pogings om hul omgewing netjies en aantreklik vir klante te hou. "Die middedorp is 'n kriminele nes met ingang van fase 3. Ons bedryf 'n besigheid voor Clicks. Die vrylating van meer as 150 gevangenes uit die gevangenisse in George en Mosselbaai veroorsaak amok. Daar was verlede week weereens 'n poging om by ons winkel in te breek met 'n paar duisend rand se skade."
Haweloses wat op die stoepe van winkels slaap en ontlasting en vullis agterlaat, asook openlike dwelmmisbruik en -handel is deel van die probleme.
"SAPS ry daar verby maar kyk anderpad - dis te veel werk om uit te vind waarmee die mense besig is. Verlede week sit 'n verslaafde reg voor ons winkel en maak openlik spuitnaalde skoon vir klante, sonder enige vrees vir my wat hom dophou. Om met die munisipaliteit en die polisie te praat is tydmors."
George-munisipaliteit se direkteur van Beskermingsdienste, Steven Erasmus, sê in reaksie op die klagtes dat die grondbestuurafdeling slegs skuilings wat reeds leeg is verwyder. Normaalweg skakel hulle dan Gemeenskapsdienste om die rommel skoon te maak.
"Indien dit skuilings is met mense, kan eienaars van die besighede grondbestuur skakel by 044 801 6300 wat dan seker moet maak aan wie die grond behoort alvorens daar op 'n plan van aksie besluit word."
'Inperking beperk diensleweringsvermoë'
Volgens Erasmus is die munisipaliteit nog nie op vol sterkte nie weens die inperking. "Let asseblief daarop dat die hele land steeds in fase 3 van inperking verkeer weens die Covid-19 pandemie. Munisipale dienste funksioneer nog nie volstoom nie en ons doen alles in ons vermoë om dienste te verrig."
Erasmus het vroeër aan George Herald-joernalis Salette Cloete gesê hawelose persone wat gewillig is, word steeds by die Rosemoor-stadion geakkommodeer en word gereeld deur die teen-grondbesettingsafdeling en polisie soontoe geneem. Hulle kan egter nie teen hulle wil daar gehou word nie en baie keer terug strate toe.
"Wetstoepassing bied tydelike verligting op klagtes, maar dit spreek ongelukkig nie die uitdagings op 'n volhoubare manier aan nie. Die uitdagings rondom haweloses wat 'n nomadiese leefwyse het, is kompleks en vereis die betrokkenheid van verskeie rolspelers."
Die George Herald wag op kommentaar van die polisie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'