GEORGE NUUS - Die enigste kleuterskool in Syferfontein, Rooi Bootjie, sluit vir goed sy deure in Desember wanneer die skoolvakansie begin.
Hierdie kleuterskool is twintig jaar gelede deur 'n weldoener, Mel Watson, tot stand gebring en is vir etlike jare deur die ACVV in George bestuur.
Voorsitter van die ACVV, Rina de Swardt, het gesê die besluit was nie maklik nie. Voortdurende inbrake, diefstal en vandalisme het die bestuur van Rooi Bootjie egter 'n onbegonne taak gemaak.
"Dit gaan absoluut oor finansies. Ons kan dit nie meer doen nie," het De Swardt gesê. "Ons ontvang wel subsidies van die departement van maatskaplike dienste vir sommige van die kinders. Dit moet volgens die departementele voorskrifte vir salarisse, voedsel en skryfbehoeftes aangewend word. Dit dek egter nie naastenby ons maandelikse uitgawes nie.
"Ons tekort elke maand is oor die R12 000, sonder die sekuriteit. Ons is 'n nie-regeringsorganisasie en moet self sorg vir heelwat van die fondse om die projek aan die gang te hou."
Die kinders luister rustig na 'n praatjie.
Word diens waardeer?
Sy sê aanvanklik het hulle net sekuriteit oor naweke gehad, maar nou is dit noodsaaklik om altyd mense daar hê. "Ons maak die ACVV bankrot op hierdie manier. Ons het altyd gedink ons bring die dienste na die mense, maar nou lyk dit of die mense dit nie wil hê nie.
Baie van die goed wat gesteel is, is in Syferfontein by huise gevind. Ouers wat wel 'n inkomste verdien is dikwels traag om die R100 per maand te betaal wat ons help met die aankope van skryfbehoeftes en kos.
Ons het tot 'n sekuriteitsheining gehad, maar dit word geknip en geplunder. Klaskamers word oopgebreek en lêers en papiere word rondgestrooi. Sekuriteit is intussen ontplooi teen hoë koste om die erf te beveilig oor naweke en in die nag.
Dit is nie finansieel haalbaar nie en dit raak ook gevaarlik vir ons personeel."
Einde van 'n era
Ouers van kleuters wat by Rooi Bootjie onderrig ontvang het, het te velde getrek op sosiale media. Sommige is ontsteld oor die besluit, terwyl ander wanhopig voel. Syferfontein is een van die armste woongebiede in George met talle gesinne wat in plakkershutte woon.
Van die gesinne word behuisingsgeleenthede by die Erf 325- behuisings-ontwikkeling naby Rosedale gebied, terwyl ander nog wag om te trek. Rooi Bootjie het kwaliteit onderrig aan kleuters van Syferfontein gebied. Volgens De Swardt het hulle hulp van die munisipaliteit versoek om Rooi Bootjie na die nuwe uitbreiding te verskuif, maar dit is glo geweier.
Terugvoer van George-munisipaliteit word afgewag.
Kinders het daagliks maaltye ontvang by Rooi Bootjie-kleuterskool.
Talle terugslae
George Herald het ses jaar gelede, op 1 Oktober 2015, oor 'n inbraak berig wat die kleuterskool destyds op sy knieë gedwing het. Sedertdien het die kleuterskool nog talle terugslae ondervind met voorvalle van diefstal, inbrake en vandalisme.
"Dit is vir ons verskriklik hartseer," het De Swardt gesê.
"Sedert die pandemie het die getal kinders wat daagliks die skool bywoon ook drasties afgeneem."
ACVV George het 'n gebou in Parkdene besit wat hulle onlangs vir 'n appel en ei moes verkoop, omdat dit so geplunder is. "Net die dak, mure en vloere is oor.
Die staalhek wat ingesit is, is weggedra. Daardie plek was op 'n stadium R500 000 werd. Ons het hom nou vir R150 000 voetstoots verkoop," het De Swardt gesê.
Die plek lê in puin na 'n vorige inbraak.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'