Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n Beroep dat meer vroue in die landbou betrokke raak is deur dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou gedoen. Meyer het Maandag die Vroue-landbouvereniging (VLV) van George en Blanco besoek.
Hy was die geleentheidspreker by 'n VLV geleentheid wat by die Outeniqua-proefplaas gehou is. Die instansie se doel is om deur middel van samewerking vroue te bemagtig, van inligting te voorsien en hulp in die gemeenskap te verleen.
Na afloop van die geleentheid het Meyer met George Herald gepraat oor onder meer die rol van vroue in die landbou. Meyer het gesê hy sien in 'n toenemende mate betrokkenheid van vroue in die primêre en sekondêre landbou.
"Ons weet juis dat vroue se grootste rol hoofsaaklik in die sekondêre landbou is, maar ons sien ook in ons hulp aan veral opkomende boere die merkwaardige rol wat vroue daar speel.
"Die sekondêre landbou is 'n groot faktor in Suid-Afrika, in die Wes-Kaap en spesifiek die Tuinroete. Ek is baie opgewonde oor die rol van vroue in die landbousektor. Vroue moet absoluut 'n groter rol in landbou speel. Daar is by my geen twyfel dat dit moet gebeur nie. Vroue is die meerderheid inwoners van Suid-Afrika.
"Vroue bring ook 'n ander benadering, 'n baie innoverende benadering. Hulle is ook betrokke by landbounavorsing, landbouproduksie en uitvoere. Ek is baie ernstig as ek sê meer vroue moet tot die landbou toetree," het Meyer gesê.
Kyk 'n video hieronder:
Tydens die geleentheid het Meyer ook sertifikate aan die VLV van George en Blanco namens sy departement oorhandig vir die rol wat hulle speel. In sy voorbereide toespraak het Meyer verwys na die belangrikheid van landbou en gesê die regering moet kennis neem daarvan en sy houding verander.
Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, spreek Maandag die dames van die VLV van George en Blanco toe.
In 2020 het alle sektore van die ekonomie, behalwe landbou, negatief gegroei. Landbou het Suid-Afrika en die ekonomie gered. Covid-19 het ontwrigting veroorsaak in byvoorbeeld die wynbedryf. Nie net is geld verloor nie, maar ook werksgeleenthede.
Meyer het voorts gewys op die belangrike rol wat landbouskole kan speel. "'n Landboustudent brand nie tyres nie."
Volgens Meyer moet Suid-Afrika van rigting verander. Veral die landbou kan nie meer bekostig wat in die land gebeur nie. Landbou het investering nodig. Wie gaan investeer as daar gepraat word van byvoorbeeld grondonteiening, wou hy weet.
Boere word ook nie goed behandel nie. In die Vrystaat byvoorbeeld moet boere omtrent al hul winste aan veiligheid bestee. Landbou verdien beter.
Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, het Maandag by die VLV van George en Blanco opgetree. Van links is Liza Stroebel, lid van die George stadsraad, Christelle Kotzenberg, voorsitter van die VLV George, Meyer en Mona van Vuuren, voorsitter van die VLV Blanco. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'