Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Danksy die barmhartige samaritane van die gemeenskap, het 'n afgetrede militêre veteraan, Daan Prins (63), nou weer hoop op 'n beter lewe.
Dr. Engela Fouche van die SA Nasionale Weermag, George-siekeboeg, het die inisiatief geneem en kragte met ander belanghebbendes saamgesnoer nadat 'n stadium IV graad II follikulêre limfoom by Prins gediagnoseer is. Prins is van Riversdal afkomstig.
Fouche het aan George Herald vertel dat Prins verlede jaar in November met pyne in beide skouers begin sukkel het. Hy het behandeling by verskeie hospitale ontvang. Dit het egter erger geraak en uiteindelik het hy na die militêre siekeboeg in George gekom.
Hy het in 'n rolstoel daar aangekom. Toe Fouche hom wou ondersoek het sy besef hy kon nie loop nie.
Sy geval is met 2 Militêre Hospitaal bespreek en hy is dadelik in 'n hospitaal opgeneem onder dr. Stella de Kock wat 'n magnetiese-resonansiebeelding (MRB) van sy brein en spinale koord aangevra het by WESP Radiologie. (Dr. WE Scribante & Partners Inc).
Kyk 'n video hieronder:
Daar is vasgestel dat daar 'n vreemde massa in sy nek is wat drukking plaas op sy spinale koord wat die verlamming veroorsaak. Na 'n konsultasie tussen 'n span spesialiste is besluit om in plaas van hoë risiko neurochirurgie te doen, eerder 'n biopsie te neem van 'n limfknoop in Prins se lies. Dit het bevestig dat dit kanker is. Prins se sorg is toe oorgeneem deur Cancer Care en dr. Lee-Ann Jones wat dadelik 'n versorgingsplan saamgestel het.
Daan Prins by Wessel Mienie, 'n fisioterapeut van Pro Physio wat hom help.
Dit het hulle egter voor 'n volgende uitdaging geplaas. Prins moes daagliks vir bestraling vanaf een hospitaal na 'n ander vervoer word. Daar was nie genoegsame fondse om hom daagliks met 'n spesialiteitsvoertuig te vervoer nie. Fouche het ER24 genader en hulle het aangebied om hom daagliks gratis te vervoer.
Volgens Fouche reageer Prins goed op die bestraling en hy behoort met verdere behandeling goed te herstel. Sy het benadruk dat dit 'n spanpoging van belanghebbendes was wat bereid was om te help.
"Dit gee my weer moed in die mensdom."
Prins het gesê dit voel of engele sy pad gekruis het.
"Ek het begin verlam word. Dr. Fouche se vinnige optrede het gehelp."
Hy is dankbaar teenoor Fouche en al die ander dokters en instansies wat gehelp het.
"Dit het my van die begin positief gemaak. Ek het nie geweet wat is kanker nie en ek leer dit nou eers ken. Ek is positief oor die toekoms."
Charl Pretorius, hoof van ER24 in die Suid-Kaap, het gesê Fouche het hom gekontak en die situasie verduidelik. "Ons het goeie verhoudinge met hulle en ons wou van ons kant iets doen om te help. Dit gaan in die eerste instansie oor die pasiënt."
Van die mense wat Daan Prins gehelp het, is Kapt. Amelda Reitz, (links) verpleegoffisier in bevel van die George-siekeboeg, dr. Engela Fouche, mediese dokter by die siekeboeg, kapt. Lizelle Greeff, verpleegoffisier en Charl Pretorius, hoof van ER24 in die Suid-Kaap. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'