GEORGE NUUS - "Coach, amazing job! Jy het my lewe verander." Dis een van tientalle WhatsApp-boodskappe wat die oud-Springbokafrigter Heyneke Meyer reeds gekry het van lesers wat sy boek, 7: My Notes on Leadership and Life, aangeskaf het.
Ons sit in 'n restaurant in Groot-Brak en gesels oor dié top-10-verkoper en die Meyer-gesin se onlangse verhuising na Groot-Brak.
Kliënte en personeel staan loer-loer nader om 'n geselsie aan te knoop of selfoonfoto's te neem. Dis opvallend: niemand word weggewys nie. Inteendeel, elkeen word met die grootste respek behandel, handtekeninge word op 'n rugsak, gesigmaskers en kopdoeke gemaak en dan, die uiteindelike selfies. Altyd met 'n glimlag, asof hy daarvoor betaal word.
Dan besef mens weereens: dié passievolle rugbyafrigter raak steeds derduisende mense se lewens aan. In 2015 het hy as hoofafrigter van die Bokke sy afrigtingskoene in Suid-Afrika opgehang. Klaargemaak voordat hy oorsee vertrek het om daar af te rig, onder andere in Frankryk by Stade Francais.
Maar nou is hy terug in die Suid-Kaap, sekerlik die "mooiste blyplek in Suid-Afrika." Dis hier in 1997 waar ek my eerste treë as afrigter gegee het toe ek by die SWD Arende ingeval het."
Van 1998 tot 2000 was hy hoofafrigter van die Arende en het hy die onbesonge span gehelp om in 1998, in sy debuut as hoofafrigter, na die halfeindstryd van die Vodacom-bekertoernooi te vorder. Daar het hulle teen die Goue Leeus met 31-19 verloor.
"Ek onthou nou nog 'n volgepakte Outeniquapark-stadion en die dae toe ons die Westelike Provinsie en die Haaie in die Curriebekerreeks geklop het. Man, dit was goeie tye. Op 'n Vrydagmiddag was die klein straatkroegies en restaurante volgeprop met opgewonde rugbyliefhebbers en het daar 'n dolle gees geheers. Dit was aansteeklik.
"Ek het vir my vrou, Linda, gesê hiernatoe wil ek terugkom. Nou het ons.
"Ek het 'n sagte plek vir die mense van die Suid-Kaap, want dis hier waar ek my eerste treë as afrigter, onder Phil Pretorius, gegee het. Ek wil hier 'n verskil maak. Ek weet dis dalk 'n geykte uitdrukking, maar ek voel ek wil iets aan die gemeenskap teruggee."
Die egpaar het onlangs 'n anderhalf hektaar grond in Groot-Brak aangeskaf en is nou druk besig om die herehuis, wat hier rondom die 1915's dateer, te restoureer. "Dis maar 'n deurmekaarspul met werkers en stof en ons huisraad wat nog in kartonne oral rondstaan. Die houtvloere word nou afgeskuur en dan moet ek nog 'n braai teen 'n skuins helling aanbou.
"Dis maar 'n groot opoffering, maar ons Meyers is al gebrei deur sulke uitdagings. Ons sal dit weer oorkom."
Sy drie seuns, aan wie hy juis die boek opgedra het, het Dinsdag uit Pretoria geland. Daar's 'n baie noue band tussen hulle, vertel Heyneke. "Mense besef nie die hoë prys wat jy moet betaal om jou drome na te jaag nie. Die lewe van 'n Bokafrigter is soms maar 'n eensame een en jy is vir lang tye weg van die huis af. Jy mis groot gedeeltes van hul grootwordjare en dit kan mens nie inhaal nie. Maar jy kan opmaak deur kwaliteittyd saam met jou gesin deur te bring. Groot-Brak bied só 'n rustige lewenstyl vir gehaltetyd saam as gesin."
Vic rig nou deeltyds rugby af by die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) in Pretoria en hy is ook betrokke by sy pa se sportfirma, Invictus and Entertainment.
Heyneke jr. is 'n derdejaarstudent in ingenieurswese en De Wet is eerste jaar in beleggingsbestuur - albei by Tukkies. Aardjie na die vaartjie.
Linda gaan met blomme boer op die grond wat hulle in Groot-Brak aangekoop het.
Die inperking het Heyneke blaaskans gegee om oor die pad vorentoe te besin en het hom uiteindelik laat besluit om 'n boek te skryf. "Ek het na al my omswerwinge by die Bulls en die Bokke lank getob daaroor of ek 'n boek moet skryf. Ek wou juis nie 'n outobiografie skryf nie, want dan moet jy op tone trap en omstrede wees. En dit net om verkope op te stoot?
"Dis nie wie ek is nie. Ek vermy die kalklig of om oor myself te gesels. Die boek gaan nie oor my nie. Primêr gaan dit daaroor dat mense hul eie potensiaal moet ontgin. Dit moet mense inspireer en hoop gee. Dis daarop gemik om mense, veral in die uitdagende tye met die Covid-19-pandemie, hoop te gee."
In die hardebandboek, wat Heyneke self gefinansier het, skryf hy oor die sewe universele beginsels van leierskap. Lewens-lesse wat kan dien as 'n kompas vir enigeen wat op soek is na hoop en rigting. "Dis 'n boek wat, hopelik, 'n verskil in iemand se lewe gaan maak."
Die sewe lewenslesse handel oor visie, jou geloof in jou visie, wilskrag, werketiek, geestelike taaiheid, geniet dié reis en menseverhoudinge.
"My hoofdoel was om dié sewe lewenslesse te deel met mense. As mense dit omarm en dit bring in die onsekere tye 'n bietjie positiwiteit in hul lewens, het ek 'n verskil gemaak. Dan het ek my doel bereik."
Heyneke sê die terugvoer oor sy boek is ongelooflik. "Ek word oorval met positiewe boodskappe en dis veral verblydend dat die boek tans onder die top-10-verkopers in boekwinkels in Suid-Afrika tel."
Heyneke gaan sy sake grootliks uit Groot-Brak bedryf. Hy wil onder meer sporttoernooie in George aanbied en ook betrokke raak by skolesport, nog 'n passie van hom. "Ek wil graag kundiges, internasionaal sowel as nasionaal, betrek by klinieke en opleiding in die Tuinroete. So deur die jare het ek waardevolle kontakte opgebou, mense wat graag hul ervaring en kundigheid wil deel.
"Ek sal ook graag by die George Tens-rugbytoernooi betrokke wil raak en is reeds in gesprekke met van die organiseerders. Leierskapontwikkeling lê my ook na aan die hart en ek sal bitter graag weer korporatiewe en ander soortgelyke leierskapskursusse wil aanbied.
"Ek is ook saam met Piet Pieters betrokke by die Ernie Els Foundation om oorsese sportbeurse vir plaaslike jong sporttalent te reël."
Hy sal nog steeds weer by rugbyafrigting betrokke wil raak, sê Heyneke, maar is in 'n stadium van sy lewe waar hy niks meer hoef te bewys nie. "Ek sal inval waar ek 'n verskil kan maak. By mense wat dieselfde waardes en beginsels as ek nastreef."
Dan deel hy weer vir oulaas hand-tekeninge uit aan die kelner wat ons tafel bedien het en roep hom, voor ons wegry, nader vir 'n selfoonfoto.
Spoedig staan daar 'n groepie kelners nader vir hul beurt.
Heyneke, geduldig, gedienstig, gedweë.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'