GEORGE NUUS - Groot vierings word onder Protestantse kerke beplan vir die wêreldwye 500ste herdenking van Hervormingsdag, wat binnekort plaasvind.
Gelowiges is opgewonde om deel te neem aan die vorming van 'n menseketting op 29 Oktober op die terrein van die NG Moederkerk.
Die plan is dat almal teenwoordig om 12:00 hande vat terwyl die Apostoliese Geloofsbelydenis afgelê word en die Onse Vader gebid word.
Almal wat belangstel om deel van hierdie uitsonderlike geloofsgeleentheid te wees, word gevra om vooraf telefonies te registreer sodat 'n idee van die aantal deelnemers gevorm kan word.
Skakel die kerkkantoor in Kerkstraat by 044 874 2036 (tydens kantoorure), of enige tyd by 044 874 4904. Alle gelowiges is welkom, ook om hierdie uitnodiging op sosiale media te versprei.
Hervormingsdag gedenk wêreldwyd die groot omwenteling wat in die kerk begin het nadat die Rooms-Katolieke priester Martin Luther in 1517 sy 95 besware teen sekere kerkgebruike teen die deur van 'n kerk in Wittenberg, Duitsland vasgespyker het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'