Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Heidi le Roux is net 10 jaar oud, maar haar kunswerk word reeds op herbruikbare inkopiesakke gebruik om mense bewus te maak van die omgewing en 'n groener samelewing. Sy is 'n gr. 4-leerling aan Laerskool Outeniqua en het vroeër vanjaar aan die AET Kids Art-kompetisie deelgeneem.
Aanloop tot kompetisie
Sy het Maandag 20 September vertel dat 'n lid van die Mond- en Voetskildersvereniging vroeër vanjaar 'n draai by die skool gemaak het. Daarna is die leerlinge van die kompetisie met die tema, Hoe om die land groener te kan maak, vertel.
Om te kwalifiseer moes die leerlinge prentjies inkleur. Sy moes dit met haar linkerhand doen. 'n Kortlys is saamgestel en Heidi is gekies om aan die kompetisie deel te neem. Haar kunsjuffrou het vir die leerlinge prentjies gewys en na aanleiding van dié prentjies moes die leerlinge iets teken. Heidi het blomme en handjies geteken. Die boodskap wat sy wou oorbring was dat mense moet saamwerk om die wêreld 'n beter plek te maak.
Sy het onlangs gehoor dat sy die kompetisie gewen het. Sy het R1 000 kontant gewen en boonop word haar kunswerk op onder meer inkopiesakke vertoon. Sy self het nog nie een van die sakke vasgehou nie, maar sy het dit wel op 'n foto gesien en dit kan reeds aanlyn gekoop word.
Volgens haar was dit nogal moeilik om die blommetjies te teken. Sy was baie verbaas toe sy as wenner gekies is. "Ek het dit nie verwag nie."
Heidi le Roux (10) saam met haar ma, Riana. Heidi se kunswerk word op herbruikbare inkopiesakke gebruik. Foto: Eugene Gunning
Liefde vir die natuur
Volgens Heidi is sy baie lief vir die natuur. Sy woon saam met haar ouers, Barend en Riana le Roux en haar ouer sussie, Zia op 'n plaas buite George. Wanneer sy in die verlede in George gekom het, het dit haar baie hartseer gemaak as sy sien hoe papiere wat rondgestrooi is, rondwaai. "Ek sien die mense papiere rondgooi en die aarde huil. Dan voel ek sleg."
Sy glo kinders moet meer doen om die natuur te beskerm. Dit gaan nie net oor plante nie, maar ook diere wat plastiek eet wat rondgestrooi is.
Riana het gesê hulle is trots op Heidi. Die familie is kunstig en sy en haar man moedig hul kinders aan om kreatief te wees.
Kyk 'n video hieronder:
Opbrengs
Die inkopiesakke word verkoop en 'n deel van die opbrengs gaan aan Invasive Fish Species Management (IFSM).
Sy het hulle gekies want hulle werk hard om mere en vleilande te beskerm. Hulle ontvang nie formeel fondse nie. Hulle doen dit uit liefde vir die omgewing en die beskerming daarvan. Die sakke kan by AET AFRICA se aanlyn winkel gekoop word.
Heidi le Roux (10), a Grade 4 pupil at Outeniqua Primary, recently won an AET Kids Art Competition with the theme “How to make the country greener”. Her design is already being used on reusable shopping bags, which can be purchased via the AET AFRICA Online Shop. Heidi has nominated Invasive Fish Species Management (IFSM), that works to conserve freshwater wetlands and lakes, to receive a portion of the profit made on the bag sales.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'