GEORGE NUUS - Oorvol klasse en 'n skoolgebou waarvan groot gedeeltes in 'n gehawende toestand is, met geen vooruitsig op verbetering nie - dit is die situasie waarmee Hibernia Primêr al vir lank worstel.
Etlike jare se pleidooie by die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD) vir meer klaskamers en onderwysers, en behoorlike onderhoudswerk aan bestaande fasiliteite val egter op dowe ore, sê die skool se bestuursliggaamvoorsitter, Charlie Bob.
"Ons skool is in 1955 vir daardie jare se behoeftes gebou. Die mobiele klaskamers wat in 1985 opgerig is as 'n tydelike maatreël, word al jare gebruik en is nou ook al in 'n onbruikbare toestand.
"Al wat ons vra is dat ons kinders die geleentheid kry op behoorlike onderwys in 'n netjiese omgewing, maar dit lyk of dit nie vir ons beskore is nie."
Daar is opknappingswerk aan die skool gedoen, maar dit is 'n druppel in die emmer van wat nodig is.
Van die klasse het tot 48 kinders. "Dit is onmoontlik om die nodige individuele aandag aan elke kind te gee, wat uiters belangrik is in hierdie fase wanneer die grondslag vir hulle skoolloopbaan gelê word.
"Die kinders word in die klasse gerangskik om elke moontlike gat te vul, van die agterste muur tot omtrent teen die swartbord."
Hy het aan George Herald plekke gewys waar vrot vloerplanke in van die klasse al meer as 'n jaar gelede met hardebord toegeslaan is om dit begaanbaar te maak.
In van die mobiele klaskamers gaap openinge tussen die vloer en die muur waar die materiaal verweer het.
Baie ander skole is in 'n soortgelyke bootjie, maar skole mag nie kommentaar lewer nie.
By Hoërskool George was George Herald in 'n klas met 52 kinders waar van hulle in die deuropening sonder 'n skoolbank moet sit.
Die ouer van 'n leerder in Pacaltsdorp Senior Sekondêr het aan die koerant gesê een van die klasse in daardie skool het 60 leerders.
Migrasie van Oos-Kaap dra by tot hoë getalle
Bronagh Hammond, woordvoerder vir die departement van onderwys, het gesê baie skole in die Tuinroete ondervind 'n hoë getal inskrywings, grootliks weens die migrasie van leerders van die Oos-Kaap.
"Die WKOD se distriks-span monitor skole sedert die roosters onlangs verander is (ná Covid) en spreek die bekommernisse wat skole aanmeld aan."
Sy sê die distriksinfrastruk-tuurspan is bewus van die toestand van klaskamers by Hibernia Primêr.
"Sekere werk is reeds gedoen om te verseker dat die klasse veilig is vir onderwys en studie. Vier mobiele klaskamers is aangevra as vervanging van bestaande klaskamers."
"In die geval van Pacaltsdorp Senior Sekondêr het een of twee klasse uitdagings weens die groei in die leerdergetalle.
"In hierdie gevalle is aansoek gedoen vir bykomende mobiele klaskamers en onderwysers, en dit word oorweeg."
Volgens Hammond moet die WKOD eers die behoeftes van al die skole in ag neem voordat bykomende mobiele klaskamers en onderwysers toegestaan kan word.
George het 53 openbare skole onder die WKOD se jurisdiksie.
Vloere is al uitgetrap.
'n Gat in die houtvloer is meer as 'n jaar gelede met hardebord toegemaak om dit begaanbaar te maak.
Tussen die muur en vloer van van die mobiele klaskamers is daar groot gapings.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'