GEORGE NUUS - Die padwerke in Markstraat het 'n negatiewe impak op verskeie winkels in die straat, volgens Ronald Smit, eienaar van George Pawn Shop.
Smit kla dat sy besigheid se omset met bykans 60% af is sedert die padwerke in die straat bietjie meer as 'n maand gelede begin het.
Markstraat word herbou as deel van die George-munisipaliteit se opgradering van roetes vir die Go George-busdiens.
Parkeerplekke in die straat het nou in die slag gebly en dit bemoeilik inkopies vir besoekers, wat volgens sommige winkeleienaars veroorsaak dat klante eerder wegbly. Volgens Smit sal sy besigheid dit nie maak as die projek nog maande gaan duur soos verwag nie.
"Die munisipaliteit behoort besighede wat negatief geraak word te help deur byvoorbeeld hulle huur te subsidieer. Dis 'n onkoste wat deel moes gewees het van die oorspronklike kwotasie."
Volgens Leon van der Hoven, eienaar van Key & Lock, is die enigste parkeerplek vir sy klante tans sy winkel se privaat parkeerarea, maar klante van omliggende besighede maak tans ook daarvan gebruik. "Die situasie is maar ongemaklik. Voor die padwerke was parkering reeds onvoldoende."
Alet Crause van CAW Signs beaam dat dit nie ideaal is nie, maar sy is bly oor die pad wat opgegradeer word. "Ons doen dus wat ons kan om saam met die situasie te werk."
George-munisipaliteit het by navraag gesê dat hulle tans in direkte kontak is met Smit rakende sy klagtes.
Volgens munisipale kommunikasiehoof Chantel Edwards-Klose, is slegs munisipale parkering in die straat binne die padreserwe geoormerk vir verwydering om die nuwe Markstraat-uitleg te akkommodeer.
"Geen privaat parkering van die straat af of ander goedgekeurde parkering in die straat sal verwyder word nie. Die parkering waarna verwys word behoort aan die munisipaliteit."
Sy het gesê 'n openbaredeelnameproses vir alle besighede in Markstraat het in Desember verlede jaar plaasgevind. Tydens die konstruksieperiode sal die kontrakteur waar moontlik toegang tot eiendom verseker. "Indien toegang nie moontlik is nie, sal die kontrakteur deur middel van mnr. Alewijn Dippenaar die nodige reëlings tref met enige geaffekteerde besigheidseienaars."
Sy het gevra dat winkel- en eiendoms-eienaars wat deur die konstruksie geraak word nie direk met die kontrakteur moet kommunikeer of inligting van hom versoek nie. Hulle kan Dippenaar kontak by dyndev@mweb.co.za of by 082 457 5675.
Terugvoer van die munisipaliteit word nog afgewag oor die impak van die permanente vermindering van parkering in die straat wat die opgradering tot gevolg gaan hê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'