GEORGE NUUS - So groot sukses is The Market at Transnet Transport Museum dat aan planne gewerk word om dit weer aan te bied. Die plan is om dit in die Paasvakansie aan te bied en waarskynlik weer in die Desember2024/Januarie2025 vakansie.
Die mark maak vandag Saterdag 6 Januarie klaar. Dit is tot om 17:00 oop. Dit is reeds van 15 Desember daagliks van 9:00 tot 18:00 oop.
Pieter du Plessis van die mark het by navraag gesê dit het ver bo hul verwagtinge goed gedoen. Dis duidelik die kombinasie van die mark en die museum werk.
Besoekers aan die mark wou by die organiseerders weet hoekom hou hulle dit nie maandeliks nie.
Volgens hom sal die datums vir die mark tydens die Paasvakansie later bekend gemaak word.
Transnet het reeds aan die organiseerders aangedui dat hulle die terrein kan gebruik vir die volgende drie jaar.
Volgens hom is daar mense wat hul lewe lank in George woon wat nou 'n draai by die museum gemaak het.
Hulle het nooit die moeite gedoen om die museum te besoek nie, maar met die mark daar het hulle wel 'n draai gemaak.
Die profiel van besoekers is van regoor die land en ook mense in die Tuinroete. Daar is gesinne wat kom. Mense bring hul kinders saam.
Daar is sowat 165 gewone uitstallers. Saam met die kostalletjies is daar byna 200 uitstallers.
Van Woensdag 3 Januarie het besoekergetalle bietjie afgeneem. Dit is omdat vakansiegangers huiswaarts begin keer het. Dis egter steeds besig en dit het Donderdagoggend gewemel van besoekers.
Mense kan vandag nog steeds deelneem aan 'n kompetisie waar die prys twee kaartjies vir die Powervan is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’