GEORGE NUUS - Peter Marais van die VF Plus het Dinsdagaand by 'n huisvergadering in George gesê Afrika is 'n begraafplaas van minderhede.
Hy het talle voorbeelde op die kontinent genoem waar lande se weermagte staatsgrepe uitgevoer en die bewind oorgeneem het. Hy het genoem dat daar in Ghana vyf staatsgrepe was, in Liberië twee, terwyl die weermag in Mali drie keer oorgeneem het en in Nigerië ses keer.
Moenie so seker wees dat dit nie in Suid-Afrika ook kan gebeur nie, het Marais gewaarsku. Hy het gesê in Afrika staan 'n regering nie sommer maklik hul mag af nie.
Marais, 'n lid van die Wes-Kaapse provinsiale wetgewer vir die VF Plus, het ook 'n pleidooi vir nie-rassige selfbeskikking gerig vir gemeenskappe wie se taal en kultuur histories met mekaar verbind is.
Hy het gevra dat die woord "kleurling" gerus uit mense se woordeskat kan verdwyn. Daar moet eerder van "bruin mense" gepraat word.
Volgens hom het die destydse Nasionale Party bankrot geraak omdat hy die verkeerde besluite geneem het. Die party het uiteindelik alles verloor.
In antwoord op 'n vraag oor die nuwe DA-leier, John Steenhuisen, en hoe die nuwe leierskap van die party die politieke toneel kan raak, het Marais gesê stene sonder sement is niks en gesê die vraag is hoe Steenhuisen die DA bymekaar gaan hou. "Hy makeer sement," aldus Marais.
Peter Marais Dinsdagaand tydens 'n huisvergadering van die VFPlus in George. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'