Update
GEORGE NUUS - Die polisie ondersoek 'n saak van poging tot moord ná 'n skietvoorval in Pacaltsdorp gistermiddag.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, is ‘n 36-jarige man Dinsdagmiddag by sy huis in Missionstraat in hegtenis geneem in verband met ‘n skietvoorval wat omstreeks 13:00 daardie middag in Fernstraat plaasgevind het.
Volgens ooggetuies is twee skote op die klaer (29) uit 'n donkerblou VW Golf geskiet.
"Die klaer kon daarin slaag om weg te hardloop en het in Cycadstraat hulpgekry vanwaar die polisie gekontak is," sê Pojie. Niemand is tydens die voorval beseer nie.
Die verdagte is kort daarna in hegtenis geneem waarna sy huis en die motor deursoek is. Die polisie het egter geen vuurwapens tydens die soektog gevind nie.
Die verdagte verskyn môre, Donderdag 19 September, in die hof op ‘n aanklag van poging tot moord. Moontlike klagtes van rig en afvuur van ‘n vuurwapen in ‘n munisipale gebied kan ook nog bygevoeg word, het Pojie gesê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'