Update
GEORGE NUUS - ‘n Man wat altyd bereid was om die ekstra myl te loop. So is Ivin Jordaan (42), werknemer van die departement korrektiewe dienste in George, Maandag deur ‘n kollega beskryf. Jordaan het Saterdagaand tragies saam met sy eggenoot, Yolande (40), in 'n motorongeluk gesterf.
Die ongeluk het Saterdagaand omstreeks 22:19 in Knysnaweg naby Le Vallia plaasgevind. 'n Voorlopige ondersoek dui daarop dat Jordaan in die rigting van Pick n Pay gery het. Jordaan het na bewering regs gedraai na die Engen-garage. 'n Toyota Hilux het sy voertuig aan die linkerkant getref.
Kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het Maandag aan die George Herald gesê die bestuurder (36) van die Toyota Hilux word aangehou en verskyn later vandag in die hof op aanklag van strafbare manslag en dronkbestuur.
Johan Pienaar, woordvoerder van korrektiewe dienste Suid-Kaapse bestuursarea, het gesê Jordaan het in die afdeling gemeenskaps-korreksies van korrektiewe dienste in George gewerk.
Hy het Jordaan goed geken en hulle het saamgewerk. Jordaan het voorheen in Oos-Londen gewerk en is agt jaar gelede na George oorgeplaas.
Ivin Jordaan van die departement korrektiewe dienste wat Saterdagaand gesterf het
Volgens Pienaar kon 'n mens Jordaan enige tyd van die dag of nag bel. "Hy was altyd bereid om te help. Hy was ook altyd vriendelik en baie netjies op homself." Voorts was hy toegewyd en hardwerkend.
Amptenare van die departement korrektiewe dienste sal later vandag die Jordaan-familie ontmoet.
*In die stadium is dit nie bekend wanneer die begrafnisse sal plaasvind nie.
Lees 'n vorige artikel hier: Man and wife killed in car accident
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'