Video
TUINROETE NUUS EN VIDEO - Hoekom sal iemand 1 000 km op 'n fiets se saal, van net 'n paar sentimeter, in die warm son deurbring?
Ontmoet Rian Brandt (58) van Danabaai naby Mosselbaai wat die lang paaie van die Wes-Kaap met 'n fiets aandurf tot steun van CapeXit, 'n organisasie wat hom beywer vir die onafhanklikheid van die provinsie.
Brandt, 'n eiendomsagent, bygestaan deur sy gesin, Anel (vrou) en Leroux (seun) het Dinsdagmiddag, 2 Februarie, in George aangekom. Hy het Dinsdag van Knysna na George gery en hoop om die reis op 22 Februarie in Lambertsbaai aan die Kaapse Weskus te voltooi.
Kort nadat hy Dinsdag die 55 km van Knysna na George in die bloedige son voltooi het, het hy met George Herald gepraat. Hy wou aanvanklik die ent pad gestap het, maar sy vrou het vir hom gesê dis nie prakties nie. Hy het toe besluit om die pad per fiets aan te durf. Hy is glad nie 'n fietsryer en het laas in 1976 'n fiets besit.
Vir hom is fietsry soos die lewe. Daar is opdraandes en afdraandes. Daar sal nooit 'n gelykpad wees nie.
Rian Brandt (58) tweede van links agter, saam met Anel (eggenoot), Leroux (hul seun) en ondersteuners kort na sy aankoms Dinsdag in George.
Hy doen dit om mense bewus te maak van die organisasie en sy doelwitte. Met die fiets kan hy mense bereik op dorpies en plekkies waar nie internet en Facebook is nie. Dis 'n opoffering en hy en sy familie ontvang nie 'n sent nie. Hy moes verlof neem by sy werk.
Hy het ook benadruk dat die organisasie geen politieke party steun nie en is ook nie gebaseer op ras of enige geloof nie.
"Ons hoofdoel is om 'n referendum te kry sodat mense van die Wes-Kaap kan sê: ja of nee." Dis in die hande van die inwoners van die Wes-Kaap.
Dit gaan oor selfbeskikking van die minderheidsgroepe van die Wes-Kaap met uiteindelike onafhanklikheid en wegbreek van Suid-Afrika. Hy glo dit sal in sy leeftyd gebeur.
Kyk 'n video hieronder:
Op die vraag of die ANC-regering of enige ander politieke party ooit sal instem tot onafhanklikheid het hy geantwoord dis nie in hul hande nie. "Die Wes-Kaap sowel as die nasionale grondwet en ander internasionale verdrae gee almal die reg tot selfbeskikking. Dis ook mense se volste reg om te sê hulle wil nie onafhanklikheid hê nie."
Volgens hom is daar baie mense wat nie hou van die idee nie, terwyl ander weer dink dis die enigste oplossing. Hy beleef dat steun vir die gedagte toeneem.
Mense kan Brandt op Facebook volg: CAPEXIT 1.6 MILLION AWARENESS CYCLE TOUR
Rian Brandt (58) links van Danabaai naby Mosselbaai saam met Anel (vrou) en Leroux (seun) kort na sy aankoms Dinsdag in George.
Rian Brandt (58) tweede van links, gesels Dinsdag kort na sy aankoms in George met ondersteuners. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'