GEORGE NUUS - Drie verdagtes tussen die ouderdomme van 16 en 20 was geskeduleer om Dinsdag 30 Maart in die George-landdroshof te verskyn in verband met 'n moord wat vroeg die vorige Sondagoggend in Rosedale plaasgevind het.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoord-voerder, kapt. Malcolm Pojie, is die Pacaltsdorp-polisie omstreeks 04:40 na Cainestraat, uitgeroep waar hulle die lyk van Werner Morris (in sy middel dertigs) langs die pad aangetref het.
"Die oorledene is met 'n steekwond aan die linkerkant van sy rug gevind," het Pojie gesê.
Na aanleiding van inligting wat deur ooggetuies verskaf is, het hulle die drie verdagtes kort ná die voorval by hul huise in Rosedale in hegtenis geneem.
Volgens Pojie word daar vermoed dat die oorledene een van die verdagtes vroeër die oggend beroof het waarna 'n bakleiery gevolg het.
Teen druktyd Dinsdag was daar nog geen inligting oor hul hofverskyning beskikbaar nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'