GEORGE NUUS - George-polisie onder-soek 'n moorddossier ná 'n 27-jarige man, Elroy London, op Sondag 27 Maart voor sy huis in Marastraat in Golden Valley, Blanco, doodgeskiet is.
Kaptein Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en gesê die presiese omstandighede word nog ondersoek.
Volgens gerugte wat die rondte doen, was London se pa en die moordverdagte, Daniel Kimana (41), egter vroeër die dag in 'n bakleiery betrokke waarna London, in 'n wraakaanval, die verdagte se voertuig beskadig het en geskiet is.
Volgens 'n betroubare bron is verskeie skote afgevuur waarvan drie London in die bors getref het. Hy is op die toneel dood verklaar.
Die verdagte is in hegtenis geneem en het gister, Woensdag 30 Maart, in die George-landdroshof verskyn. Teen druktyd was die besonderhede rondom sy verskyning nog nie beskikbaar nie.
Daar word ook gesoek na die vuurwapen wat tydens die voorval gebruik is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'