GEORGE NUUS - Die slagoffer van 'n ernstige aanranding het 'n klag teen 'n korrektiewe beampte verbonde aan die George-gevangenis gelê na dié hom glo herhaaldelik met sy ysterpuntskoen teen die kop en lyf geskop het. Hy beweer ook dat die beampte rassistiese opmerkings gemaak het en hom gevloek het.
Volgens die man was hy Sondagoggend, 27 Mei omstreeks 07:00 op pad werk toe, toe die voorval plaasgevind het.
"Ek het by die drierigtingstopstraat, waar Union- en Mitchellstraat bymekaarkom, gestop toe ek uit die hoek van my oog twee motors, 'n rooi en 'n wit Volkswagen Polo, uit die rigting van Hopestraat gejaag sien kom. Amper asof hulle dice," het hy gesê.
"Dit het byna my lewe gekos. Die rooi motor het eenvoudig net oor die stopstraat gejaag. Die wit motor was 'n ent agter hom. Ek het gereken hy het genoeg tyd gehad om my te sien en aangesien ek reg van weg gehad het, het ek gery."
Hy sê sekondes na hy weggetrek het, het hy besef dat die Polo nie gaan stop nie en hy was geforseer om 'n skerp regsdraai in die aankomende baan te maak waarna die Polo bloot verby hom gejaag het.
Albei voertuie het by die George-gevangenis ingedraai en hy het hulle agternagesit.
"Ek wou aan hom sê hy het geen rede om soos 'n maniak te bestuur nie. Ek het in die gevangenis se parkeerterrein langs hom gestop en uit my motor geklim. Sy venster was so 'n stukkie oop (hy wys sowat 15 cm met die hand). Ons het woorde gehad en hy het skielik sy deur teen my oopgestamp en uitgeklim."
Hy sê hy het op sy hurke geland waarna die beampte hom glo toegesnou het, "Vandag bliksem ek jou dood, jou wit p***.
Die slagoffer se enkel kort na die beweerde aanval. Foto's: Kristy Kolberg
Die korrektiewe beampte het hom toe na bewering met sy staalpuntskoen teen die kop geskop.
Hy sê die beampte het daarna, ten aanskoue van 'n onbevestigde getal ooggetuies, aangehou om hom te skop terwyl hy op die grond gelê het.
"Na die hou op my kop is dinge 'n bietjie vaag. Ek onthou ek het in 'n stadium probeer opstaan waarna hy my aan my kraag gegryp en op die grond neergegooi het," het hy gesê. Volgens hom het van die beampte se kollegas uiteindelik tussenbeide getree en die beampte verwyder.
"Die hele storie het seker so een of twee minute geduur, maar dit voel langer."
Die slagoffer het 'n ernstige enkelfraktuur opgedoen.
Verder het hy ook beserings aan sy arms, bene en gesig.
Die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, kon 'n voorval by die gevangenis bevestig en het gesê dat daar teenklagte by die George-polisie ingedien is. Geen verdere inligting is gegee nie.
Al twee mans verskyn 25 Junie in die George-landdroshof.
Die departement van korrektiewe dienste is vir kommentaar genader, maar teen druktyd is geen terugvoer ontvang nie.
* Two men, one of whom is an official at George Correctional Services, will appear in court on 25 June after an incident in the correctional services' parking lot early on Sunday morning. The official allegedly assaulted the victim in a traffic-related altercation after the official allegedly jumped a stop street, nearly causing an accident.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'