Update
GEORGE NUUS - Sowat twee maande nadat die jong Shaun Pyler (19) van Pacaltsdorp vermoor is, is 'n verdagte in hegtenis geneem. Die verdagte, Rudy Kapank (30), het homself op Sondag 1 Augustus aan die polisie oorgegee waarna hy in hegtenis geneem is.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, het die verdagte homself oorgegee ná konsultasie met sy regsverteenwoordiger.
"Op die Nasionale Vervolgingsgesag se aanbeveling, staan die verdagte nou tereg op aanklag van moord," het Pojie gesê.
Kapank het op 3 Augustus in die plaaslike landdroshof verskyn waarna hy vrygelaat is op 'n waarskuwing om weer op 3 September te verskyn.
LEES MEER: Optog na moord op seun
Pyler is op 29 Mei by 'n partytjie in Andersonville met 'n mes doodgesteek ná 'n onderonsie tussen hom en die verdagte by 'n huis in Valksingel. Pyler het agt steekwonde opgedoen waarvan een in sy lewer was.
Die verdagte, wat ook beserings opgedoen het, is na die hospitaal geneem en later ontslaan. Hy is ook verskeie kere gesteek, onder andere in sy long. Hy het 'n teensaak van poging tot moord teen Pyler aanhangig gemaak.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'