GEORGE NUUS - Die oorblywende lede van Yolandy Boesak (30) se familie is steeds in rou gedompel ná haar ontydige en brutale moord vroeër die maand.
Daar word beweer dat Boesak op Saterdagaand, 4 Februarie, deur haar vriend, Jeremy Siko (24) vermoor is.
Haar liggaam is die aand deur lede van Conville-polisie op die bed in Siko se woning in Kroghstraat, Borcherds, aangetref ná hulle omstreeks 23:20 op 'n klagte gereageer het.
Sy het veelvuldige beserings opgedoen en is op die toneel dood verklaar. Siko word daarvan verdink dat hy Boesak tydens 'n voorval van gesinsgeweld wreed aangerand het. Hy was op die toneel met die polisie se aankoms en is in hegtenis geneem op aanklag van moord.
Hy was geskeduleer om gister, Woensdag 22 Februarie, in die George-landdroshof vir sy borgtogaansoek te verskyn. Teen druktyd was die besonderhede rondom sy verskyning nog nie bekend nie.
Liefdevol en nederig
Boesak, 'n voormalige leerder van Hoërskool Parkdene, se familie onthou haar as 'n liefdevolle en nederige mens wat altyd geglimlag het. "Sy het goed gedoen op skool en het nooit kwaad geword nie. Sy het net die goeie in almal gesien. Ons sukkel om oor haar dood te kom," vertel haar tannie, Susan Esau.
Aanvanklike inligting dat Boesak oorspronklik van Oudtshoorn is, was nie korrek nie.
Haar pa is oorlede toe sy jonger was en haar ma woon elders in die Tuinroete. Sy het by haar familie in Parkdene grootgeword.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'