MOSSELBAAI NUUS - 'n Sewe-en-dertigjarige man is agter tralies 'n week nadat die polisie 'n massiewe soektog na hom geloods het. Die verdagte se arrestasie volg nadat 'n inwoner van George ontvoer is en in 'n veld naby Groot-Brakrivier verkrag, gewurg en vir dood agtergelaat is.
Die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, sê die verdagte het op 29 Augustus na bewering 'n 43-jarige vrou in Heatherpark ontvoer.
Die slagoffer wou na bewering dwelms by die verdagte koop en het hom by 'n vulstasie in Heatherpark ontmoet. Die verdagte het egter aan die slagoffer gesê dat sy by sy huis in Pacaltsdorp dwelms kan koop en het aangedring om haar rooi Volkswagen daarheen te bestuur.
Hy het glo aan haar gesê dat dit minder verdag sal lyk as hy haar voertuig in die woonbuurt bestuur.
Die verdagte het egter in die rigting van Groot-Brakrivier gery waar hy die slagoffer naby die plaas Buffelsdrift na bewering aangeval, verskeie kere verkrag en haar in 'n veld met 'n tou gewurg het. Die verdagte het haar vir dood agtergelaat en met haar voertuig weggejaag.
Die slagoffer kon daarin slaag om na die pad te kruip waar 'n motoris haar gehelp het.
Pojie sê 'n op-en-wakker inwoner van George het die verdagte Vrydag in Heatherpark herken nadat die polisie foto's van die man versprei het. Die verdagte is in hegtenis geneem en het op Maandag 11 September in die Mosselbaai-landdroshof verskyn op aanklagte van poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer, diefstal van 'n motorvoertuig en vier aanklagte van verkragting.
Die verdagte verskyn weer op Vrydag 15 September in die Mosselbaai-landdroshof vir 'n borgaansoek. Pojie sê ondersoekbeamptes in die saak sal die borgaansoek teenstaan.
Lees vorige artikels:
• Man agter tralies na verkragting
• Alleged rapist on the loose
* A 37-year-old man who was sought by the police after he allegedly abducted, raped and throttled a woman from George, has been arrested. The 43-year-old woman allegedly met him at a garage in Heather Park to buy drugs, where he insisted to drive her to his house in Pacaltsdorp in her car. He took the road to Great Brak River instead and stopped near the farm Buffelsdrift, where he attacked and repeatedly raped her, throttled her with a rope and drove away in her car, leaving her in the veld. On Friday, a resident recognised him in Heather Park from the photo the police had circulated and informed the police. He appeared in the Mossel Bay Magistrate's Court on Monday and will appear again on Friday 15 September for bail application.
'We bring you the latest George, Garden Route news'