GEORGE NUUS - 'n George-inwoner se week het op 'n slegte noot begin toe hy Maandagoggend 'n bosbokkarkas voor sy inrit aantref.
Volgens Seun du Plessis van Patrysstraat in Eden het die bok omstreeks 06:30 in die straat voor sy huis gelê.
Du Plessis se buurvrou, Trish Hall, is hoogs ontstoke oor die insident. Volgens haar was die bok styf toe sy aan hom vat en kon sy 'n ronde gaatjie met bloed op sy sykant, op die onderlyf sien.
"Ons vermoed hy is geskiet," het sy gesê. Toe sy egter later na die toneel terugkeer was die bok weg.
Die bok is blykbaar omstreeks 07:00 deur drie mans in 'n wit bakkie gelaai, waarna hulle met die karkas weggery het.
Volgens Du Plessis kon die ooggetuie nie met sekerheid sê of dit 'n gemerkte bakkie was nie.
George-munisipaliteit se mediaskakelbeampte, Athane Scholtz, het bevestig dat die munisipaliteit nie van die insident verwittig is nie.
Hoofinspekteur van die Tuinroete DBV, Salome Bruyns, het gesê alhoewel hulle oor die voorval ingelig is, kan hulle nie 'n saak maak sonder 'n karkas nie.
"'n Nadoodse ondersoek kan nie plaasvind nie en daar was geen getuies nie," het sy gesê. "Mense moet op die uitkyk wees vir mense wat moontlik bokke in die area skiet. Meer as dit kan 'n mens ongelukkig nie op die stadium doen nie." Nie Hall of die Du Plessis-egpaar het enige skote gehoor nie.
Intussen is Hall woedend oor die voorval. "Die bok was 'n gereelde besoeker in ons buurt. Hy kom al lankal hierheen om te wei."
Du Plessis het gesê die bok het altyd vye van sy boom geëet. "Hy was baie mak, 'n mens kon maklik tien meter van hom af staan sonder dat hy weghardloop," het hy gesê.
'n Bewaringsdienstebeampte van CapeNature se George-kantoor, Carlo van Tonder, het by navraag gesê indien die bok wel geskiet is, dui dit op onwettige jag aangesien bosbokke se jagseisoen tans gesluit is. "Die besit van 'n karkas van 'n wilde dier sonder die nodige dokumentasie is ook 'n oortreding volgens die natuurbewaringsordonnansie," het Van Tonder gesê.
Rapporteer onwettige jag aan CapeNature by 044 802 5300.
n Volgens 'n munisipale verordening wat verband hou met vuurwapens is dit teen die wet om 'n vuurwapen of windbuks af te vuur in 'n residensiële gebied.
ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'