GEORGE NUUS - Motoriste word gevra om versigtig te ry op die verlegging aan weerskante van die Maalgatebrug waar die verbredingsprojek tans aan die gang is.
Inwoners in die omgewing wat die roete daagliks gebruik, sê hulle voel onveilig omdat daar nie behoorlike kontrole is vir motors wat vanuit die verskillende toegange op die R102 aansluit nie.
Die verlegging aan weerskante van die brug kan slegs enkellaanverkeer hanteer en verkeer word gekontroleer met stop/ry-beheerpunte. Vlagmanne by die beheerpunte is egter nie bewus van verkeer wat uit die sypaaie in die verlegging indraai nie.
Volgens Martelie Laney, 'n bekommerde inwoner wat die pad daagliks gebruik, was daar al enkele insidente waar motoriste op die R102 ingedraai het en waar hulle verkeer uit die teenoorgestelde rigting teëgekom het. Laney het dit self ondervind.
"Aan die begin van die projek was daar by die verskillende toegange vlagmanne wat in verbinding was met die stop-ry-beheerpunte, maar dit is gestaak. Ons het daaroor gekla, en in reaksie is kennisgewingborde by die kruisings aangebring wat motoriste aansê om te wag en kyk in watter rigting die verkeer vloei voordat jy by die pad indraai."
Laney sê inwoners se klagte is egter dat daar nie by die Ithula-kruising 'n uitsig is nie. Hulle kan dus nie die aankomende verkeer sien nie.
"Dit kan baie maklik tot 'n ongeluk lei," sê sy.
Jandré Bakker, woordvoerder vir die Wes-Kaapse Departement van Vervoer en Openbare Werke, het by navraag gesê hulle is bewus van die klagte. Die vlagmanne wat aanvanklik by elke kruising gestaan het, was die kontrakteur se inisiatief, maar dit is uiteindelik nie as volhoubaar beskou nie.
Die aanbring van die inligtingsborde soos nou gedoen is, is praktyk en is by verskeie ander projekte geplaas waar dit goed werk. Bakker sê motoriste moet net bereid wees om geduldig te wag om die rigting van die vloei te bepaal.
Volgens Laney gaan sy so te werk, maar sy het by geleentheid teen 'n opdraand agtergeraak nadat sy agter 'n string motors ingedraai het en die beheerpunt is oopgemaak vir aankomende verkeer terwyl sy nog op die verlegging was. "Motoriste wat die pad gebruik, moet asseblief maar versigtig wees."
Bakker sê die projek behoort in vroeg Augustus volgende jaar klaar te maak.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'