Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - As godsdiensleiers hul sin kry, sal kerke se deure weer oopgemaak word. Kerkgeboue staan sedert die inperking op 27 Maart inwerking getree het op Sondae verlate en by talle kerke is kennisgewings wat die situasie verduidelik.
Verskeie kerke span nou tegnologie in om lidmate te bereik, maar godsdiensleiers wys op die belangrikheid van interaksie tussen medegelowiges.
In sommige kerkkringe word gesê dit is onverstaanbaar dat drankwinkels oopgestel word, maar mense mag nie Sondae kerke besoek nie. Pres. Cyril Ramaphosa het Sondagaand laat blyk dat gesprekke met geloofsleiers plaasgevind het en dat hulle ooreengekom het op verdere besprekings om 'n werkbare oplossing te vind.
Afgelope Sondag (24 Mei) het lidmate van verskillende kerke aan 'n gebedstaptog in Nelson Mandela-boulevard in George deelgeneem. Terselfdertyd het iets soortgelyke ook op nader plekke aan die Tuinroete plaasgevind.
Fotogalery: Kerkgeboue staan te lank leeg
Hulle het gevra dat kerke se deure weer oopgemaak moet word. Onder diegene by die staptog was pastore John Smith van die JCI Church en Hilton Langeveldt van Tikvah House of Prayer.
Langeveldt het na die geleentheid gesê kerke moet gesien word as 'n noodsaaklike diens. Hulle het 'n verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap. Hy het benadruk hulle is nie apaties teenoor die stryd teen Covid-19 nie en wil help.
Kyk 'n video hieronder:
Die NG Moedergemeente in George. Foto: Eugene Gunning
Op die oomblik is mense emosioneel en bekommerd. Kerke kan juis 'n rol in die verband speel. Hulle respekteer Ramaphosa se aankondigings oor byvoorbeeld drankwinkels, maar daar is besorgdheid dat alkohol kan lei tot verval in gemeenskappe. "Ons doen 'n beroep op leiers om weer die kerke se deure oop te stel."
Smith het gesê kerke se deure moet weer oopgestel word en die nodige maatreëls is reeds in plek. Volgens hom help kerke nie net met 'n geestelike boodskap nie. Kerke help ook met geestelike berading en help mense fisies. "Mense kom na ons toe."
Ds. Pieter van Santen, voorsitter van die NG kerk se ring in George en leraar van die gemeente Tuinedal het gesê geloof is 'n verhouding met die Here en medegelowiges. Dis nie net 'n individu nie.
Al word tegnologie op die oomblik ingespan wil gelowiges steeds in 'n gebou saamkom. Hy is ten gunste dat kerkgeboue weer oopgestel word met die nodige maatreëls soos mense wat gesigmaskers dra en sosiale afstand. Net soos by skole sal kerke ook gereinig word.
Pastoor Johan du Toit van die Nuwe Lewe Bediening het gesê kerk moet weer oopgestel word met die nodige maatreëls. "Ons aanvaar dinge gaan nie gou weer wees soos voorheen nie. Dit is belangrik dat omgesien word na die geestelike welstand van mense. Daar is mense wat dringend aandag moet kry."
Mense tydens Sondag se gebedstaptog in Nelson Mandela-boulevard. Foto: Eugene Gunning
If religious leaders have it their way, church buildings will be open on Sundays again. They have been closed since lockdown started and churches use technology to communicate with their congregations. They respect Government's decisions and are prepared to help in the struggle against Covid-19, but ask that people be allowed to go to church on Sundays with the necessary measures in place.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'