Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n Kwagga-ma, wat bars van trots oor haar dogter se uitstekende matriekpunte, het verlede week hul gesin se kombi verkoop sodat haar dogter kan gaan studeer.
Candice Muller (18) was verlede jaar op die leerlingraad van Hoërskool Outeniqua en het in die eerste netbalspan gespeel. Haar toekomsdroom, om somatologie by Isa Carstens-akademie in Stellenbosch te studeer, is op die nippertjie bewaarheid.
"Dit was 'n baie spannende paar dae voor die spertyd vir die betaling van haar inskrywings-geld," het Janice Muller, Candice se ma, vandeesweek gesê. Janice is werksaam by die provinsiale department van verkeer in Knysna, maar woon saam met haar drie skoolgaande kinders in George.
Haar ander twee kinders is tans ook leerders by Hoërskool Outeniqua.
Janice en Candice, tesame met Janice se ma, het tydens hul paar dae verblyf in Stellenbosch verlede week besef hul tyd raak nou min. "Om die kombi te verkoop was die enigste manier om so vining haar studiegeld van knap oor die R100 000 in te samel," het Muller gesê.
Janice Muller het deurentyd gehoop en gebid iets sal gebeur wat haar dogter se eerste studiejaar in Stellenbosch sal moontlik maak. Foto: Michelle Pienaar
"Ek het die kombi verlede Woensdagaand op die Facebook-groep Georgiete Staan Saam geadverteer, en die volgende oggend, net na 07:00, het ek 'n oproep van die koper ontvang. Dieselfde dag nog is die transaksie beklink. Ons moes Candy se studiegeld teen die Vrydag inbetaal."
Die koper, Cecil Terblanche, het aan George Herald gesê hy het self twee dogters en was geraak deur Muller se boodskap op Facebook. Hy woon self in George en besit 'n paneelklopperbesigheid, CEC Enterprize, en het binne dae die voertuig weer padwaardig gekry.
"Ons gesin beplan 'n trippie na Kaapstad," het hy gesê. "Dit is die derde persoon wat ek so help, wat dringend hul voertuig moes verkoop. Dit voel goed om te dink 'n mens kon 'n verskil maak."
Die Mullers se reis na Stellenbosch was egter nie sonder enige teëspoed nie. Net voor Caledon het hul voertuig se band gebars en Janice moes mooi kophou.
"'n Mens kry dalk teëspoed in jou lewe, maar jy moet altyd vashou aan hoop," het sy gesê.
"Vir weke al praat ek gereeld met die Outeniquaberg wat ek hier vanuit my woonstel se balkon sien. Drie mense het vir my die mooiste Bybelversies gestuur waaraan ek vasgehou het. Ons het nie al die antwoorde gehad nie, maar ons het geweet God spesialiseer in die onmoontlike en dat Hy sedert die begin 'n pad met ons stap, veral deur 'n moeilike egskeiding met al sy uitdagings.
"Ek het geweet dat ek alles in my vermoë moet doen om Candy se droom te bewaarheid. Dit sou my breek om met haar weer na George terug te keer, terwyl haar hart reeds by die kursus in Stellenbosch was."
VIDEO: Ma verkoop kombi om dogter se studiejaar te betaal
Candice is gekies as deel van Hoërskool Outeniqua se leerlingraad vir 2021/2022.
Candice Muller en haar kêrel, Ethan Myners. Dié twee het saam aan Hoërskool Outeniqua gematrikuleer. Hier vier hulle hul laaste dag op skool voor die eindeksamen.
Candice Muller (regs) het haar rybewys in September verlede jaar gekry. Hierdie selfie wys hoe lekker sy haar suster, Donay Muller (16) en broer Darren (14) rondry.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'