GEORGE NUUS - Conville-polisie ondersoek steeds 'n saak van ontvoering en moord ná die liggaam van Monwabisi Christopher Mlinjani (43) Dinsdagaand, 22 September omstreeks 21:45 deur gemeenskapslede in 'n taxi by die polisiestasie afgelaai is.
Volgens die Suid-Kaapse polisiewoord-voerder, kapt. Malcolm Pojie, sal die presiese oorsaak van Mlinjani se dood eers na 'n nadoodse ondersoek bevestig kon word.
Die uitslag van dié ondersoek is teen druktyd nog nie bekendgemaak nie.
"Hoewel die oorsaak van die oorledene se dood nog bevestig moet word, het verdere ondersoek daarop gedui dat hy aan inwendige beserings beswyk het ná hy moontlik met 'n stomp voorwerp aangerand is," sê Pojie.
Pojie sê verder dat die oorledene moontlik met 'n klag van huisbraak, wat die vorige naweek in Charlie Hugostraat, Lawaaikamp plaasgevind het, verbind word.
"Daar word beweer dat die oorledene 'n rugsak en 'n beursie gesteel het waarna lede van die gemeenskap hom aangekeer het," sê Pojie.
Die klaer het glo die man positief geïdentifiseer waarna die groep hom weggeneem en later die aand by die polisiestasie afgelaai het. Paramedici is ontbied om mediese bystand te verleen, maar met hul aankoms het hulle die man dood verklaar.
Enigiemand met inligting word gevra om die ondersoekbeampte, sers. Johannes Nett, by 044 803 3302/36, 063 487 1515 óf Stop Misdaad by 08600 10111, te kontak. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'