GEORGE NUUS - Die jong diereliefhebber van George, Luhan Smit, wat hierdie tyd van die jaar honde- en katkos vir Oudtshoorn Dogs in Need (Odin), insamel, gaan vanjaar groot. Hy poog om vanjaar twee ton kos in te samel.
Die 11-jarige Luhan van Ribbokstraat 46 het al die afgelope paar jaar gewys dat hy 'n groot hart het. Dit het in 2020 begin en elke jaar kan mense kos, komberse, mieliemeel of kontant skenk terwyl hulle na die Kersliggies kyk in die straat waar hy saam met sy ouers, Kobus en Belinda woon.
Luhan se pa, Kobus, versier sedert 2007 elke jaar hulle huis met die mooiste Kersliggies. 'n Buurman, Dirk Barnard, het Luhan inspireer om met sy poging te begin. Hy het destyds vir Luhan 'n kartondoos vol 10 sent stukke gegee en gesê hy moet kos vir diere daarmee koop.
Verlede jaar het hy 1,4 ton ingesamel. In die stadium het hy reeds 1,2 ton ingesamel.
Luhan gee baie om vir diere in nood en voel jammer vir die diere - veral die wat mishandel word.
Hy het Sondag 17 Desember aan George Herald vertel hy is baie lief vir diere - veral vir honde. "As ek 'n hond sien wat swaarkry, maak dit my hartseer. Ek wil graag help en is baie opgewonde om dit weer te doen."
Kobus en Belinda het vertel hulle steun hom 100% in die projek. Die liggies is reeds 'n paar dae gelede aangeskakel. Dit word elke aand aangeskakel tussen 20:00 en 22:00. Dit word nie geraak deur beurtkrag nie, want sonkrag word as 'n rugsteunstelsel gebruik. Die bure steun ook vir Luhan.
Almal is welkom om saans tussen 20:00 en 22:00 'n draai daar te gaan ry. Sy poging eindig op 30 Desember.
Marlene Mennie van Odin het Maandag gesê hulle verwelkom Luhan se hulp. "Ons is in die wolke. Dit help ons veral in Januarie na die feesseisoen wanneer donasies stadiger inkom."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’