Gallery
GEORGE NUUS - Groot opgewondenheid het verlede Woensdag, 15 Junie, by Superspar Heather Park geheers met Laerskool Blanco se ‘Trolley Dash’ vir die wenners van 'n lootjietrekking as fondsinsameling vir die skool.
Ismail Lynard, die gelukkige wenner van die groot ‘Trolley Dash’ en Ewald Terblanche (12), die wenner van die ‘mini-dash’ as die leerder van Laerskool Blanco wat die meeste kaartjies verkoop het - 168 in totaal - het met hul trollies vroegoggend deur die winkelrye geblits.
Lynard het 60 sekondes gehad om produkte met ‘n maksimum waarde van R5 000 in sy trollie te laai, terwyl jong Ewald sy takie moes verrig in 30 sekondes, vir produkte met ‘n maksimum waarde van R1 500.
"Laerskool Blanco vier vanjaar hul 175ste verjaarsdag. Daarom het ek dit goed gedink om saam met Superspar Heather Park ‘n groot poging aan te wen om hierdie groot mylpaal van die skool te vier," het waarnemende skoolhoof, Estée Terblanche, gesê.
Superspar Heather Park se skakelpersoon vir hierdie projek, Daniella Bester, was baie behulpsaam en het gehelp met die verkoop van lootjies teen R20 per kaartjie. Die kassiere by Superspar Heatherpark wat die meeste kaartjies in die winkel verkoop het, Monique Maneville, is beloon met 'n geskenkbewys van R1 000.
Van links is Ewald Terblanche (wenner: "mini-dash"), Monique Maneville (kassier), Ismail Lynard (wenner: "Trolley Dash"), Estée Terblanche (waarnemende skoolhoof) en Daniella Bester, skakelpersoon van Superspar Heather Park.
Laerskool Blanco se volgende fondsinsamelingsprojek is 'n dans op 13 Augustus by die Four Brothers-aartappelstoor, saam met die rugbywedstryd (SA vs NZL) op grootskerm.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'