GEORGE NUUS - Die nuwe boek, Lockdown Letters, is gebore uit 'n preek van 'n pastoor wat gesê het, "If Anne Frank did not keep a diary, the world would have been much poorer."
En so, om nie te vergeet nie, is Lockdown Letters herinneringe van 'n jaar soos min en die verskeie ondervindings waardeur mense is, vertel Anneline de Hout van die uitgewer, Sela Publikasies.
Die boek is onlangs in George bekendgestel en De Hout sê sy help skrywers om as mede-uitgewer hul boeke die lig te laat sien. Sy het mense op sosiale media genader om hul ervaring van grendeltyd te deel.
"Ons wou nie hê dit moet negatief wees nie, maar liewer 'n dokument van terugkyk en onthou. Dis so maklik om te vergeet wat gebeur het, sodra mens terug in jou ou roetine is."
De Hout sê mense van alle kulture en tale was welkom om hulle stories te deel.
"Ons het 'n check-list gehad van wat ons alles in die boek wou hê, en wonder bo wonder het ons alles gekry, sonder om daarvoor te vra."
Talné Jordaan, Anneline en Jana de Hout, en Karen Warneke by die bekendstelling.
Sy vertel 40 skrywers en 12 kunstenaars is deel van die boek. Wat die boek verder spesiaal maak is dat elke skrywer se naam en die titel van hul brief voor in die boek verskyn en 'n kort opsomming oor die skrywer self, agterin. In Augustus het hulle kunstenaars gevra om kunswerke te stuur vir die voorblad.
"In ons agterkop wou ons eintlik 'n posbus hê. En die kunswerk van Llise Dodd het op die laaste nippertjie gekom." De Hout en 'n paar van die skrywers het toe die afgelope Saterdagoggend bymekaargekom en hul stories met George Herald gedeel.
Een van die skrywers is De Hout se dogter, Jana (18). Jana, die jongste skrywer, deel haar storie vanuit die oogpunt van iemand wat pas skool klaargemaak het. Sy skryf oor haar geestelike reis, en hoe sy van kindsbeen af weet sy wil sendingwerk doen.
Herman Pienaar van Georgiete staan saam en Love George vertel van sy noue ontkoming met Covid-19. Pienaar en sy gesin het almal saam Covid-19 gekry. Hy vertel omdat hy oorgewig is met hoë bloeddruk, was sy herstel harder en langer as die van sy gesin.
Karen Warneke, wat jaarliks 'n vrouetee reël vir George kinder- en gesinsorg, is ook gevra om haar storie te deel. Vir Karen was dit 'n ware "ah-ha" oomblik en sy vertel hoe om agter jou masker uit te kom.
Talné Jordaan, 'n juffrou by George Preprimêr, skryf oor 'n troue net voor grendeltyd, en die beloftes wat paartjies aan mekaar maak.
De Hout sê Lockdown Letters bied 'n boodskap vir elkeen - kos vir die siel. As jy self die boek wil besit, kontak haar by Info@sela-books.co.za
Carina en Herman Pienaar. Hy en sy gesin het Covid-19 opgedoen.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'