GEORGE NUUS - Local Motion, 'n groep vir jeugdiges in Borcherds, se doel is om plaaslik 'n beweging mee te bring deur die werk van God te doen.
Sabrina Horn vertel die groep het in 2019 begin met 'n Bybelkamp in Parkdene, waar sy begin het om 'n verhouding met van die plaaslike jongmense te bou. Hier sê sy het hulle gesels en gehoor wat die jong mense graag wil doen, en dit het van daar gegroei.
Horn sê die Covid-19-inperking het 'n klip in die pad gegooi, maar hulle het steeds op staproetes gegaan gedurende die tye wat toegelaat was vir oefening.
Horn sê dit is lekker om met die kinders projekte aan te pak en te doen wat hulle graag wil, maar dit is ook belangrik vir hulle dat die jong mense geestelik gesond is, en 'n goeie verhouding met Jesus het. Sy het ook 'n branderryklub met die seuns begin.
Horn en van die ander leiers in die groep, sê hulle kan 'n verskil sien in van die kinders. Omdat Local Motion met kwesbare jeugdiges in veral Borcherds en Parkdene werk wil hulle geleenthede skep, hulle leierskapvaardighede aanleer en hulle buite hul omstandighede na dinge laat kyk.
Nog 'n groentetuin wat hopelik 'n inkomste vir iemand kan wees.
Sy sê dit gaan nie soseer oor wat hulle kan doen vir die kinders nie, maar wat die groep kinders graag wil doen of leer. Van die programme is om te leer swem, om op uitstappies te gaan, te leer branderry, te leer verf en kreatief te wees asook musiek te maak en deur alles 'n sterker, onafhanklike jong volwassenes te wees sodra hulle klaarmaak met skool.
Horn sê Gustav Appels (19) van Parkdene is een van hul sukses stories. George Herald het onlangs oor Appels, 'n matrikulant aan Hoërskool Parkdene, se inspirerende storie berig. Die jong man het, ten spyte van sy eie omstandighede, verlede jaar grafte toegegooi om ekstra geld te verdien sodat hy behoeftige kinders by sy sopkombuis kon voer en ook sy ouma, wat 'n pensioentrekker is, te help in die huis.
Volgens Horn is hul fokus op hoërskoolkinders, omdat daar reeds ander gemeenskapsprogramme is wat fokus op jonger kinders.
Hier neem kinders deel van 'n kunsklas.
Hulle het ook gevind dat dié ouderdom kinders in 'n stadium van hul lewe is waar hulle probeer uitvind wie hulle is, en Local Motion help hulle daarmee. Horn werk saam met ander jeugleiers soos Blaine Steyn, Bradley Bloem en Klaas Rathabaneng en elk van die leiers bring iets na die groep waaruit die kinders kan leer.
Hulle soek tans na iemand wat kan help met die afrig van musiek vir die wat daarin belangstel. Die groep het ook al reeds begin met gemeenskapstuine, maar vir eers net by die persoon se huis. "Ons sal graag meer wil doen, maar het nie op die oomblik grond waar 'n groter tuin aangelê kan word nie," verduidelik Horn.
Sy sê hulle het pret en leer baie by mekaar, maar vergeet nie dat alles moontlik gemaak word deur God nie.
Die branderryklub wat Sabrina Horn begin het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'