GEORGE NUUS - Linda Labuschagne, die navorsingskurator vir museums in die Suid-Kaap en Klein-Karoo, het einde Mei die tuig neergelê ná 35 jaar diens by die Wes-Kaap Museumdiens.
Kollegas het 'n spesiale afskeidsgeleentheid vir haar by die Protea Hotel King George gehou. Een van haar kollegas het gesê Labuschagne kan "super trots" wees op haar besondere loopbaan.
"Jy het altyd jou alles gegee en daarom so baie bereik. Dit was 'n voorreg om saam met jou te kon werk."
Labuschagne het gesê een van die hoogtepunte van haar loopbaan was toe sy George se museumkurator was van 1993 tot einde 1995. Sy het die houttema van die museum uitgebrei en 'n suksesvolle uitstalling daargestel, wat sy in 2014 verbeter het.
Sy is bevorder met haar aanstelling as bestuurder van die Dias-museumkompleks in Mosselbaai van 1996 tot en met 2002.
"Ek kon my hier uitleef in een van my belangstellings, naamlik maritieme geskiedenis. Ek was ook verantwoordelik vir die daarstelling van 'n Braille-roete wat gehandel het oor die beskrywing van inheemse fynbos. Persone kon die plante aanraak, daaraan ruik en dan in braille lees waarvoor die plant gebruik kon word."
Linda Labuschagne (links) en Lorinda Hakimi, kurator van die George-museum.
Haar besoek aan 'n maritieme konferensie in Australië en besoek aan Portugal en talle maritieme museums daar sal haar altyd bybly. Die ambassadeur en konsul-generaal van Portugal se besoeke aan die Dias-museum was 'n uitvloeisel daarvan.
In 2002 word sy navorsingskurator wat hoofsaaklik navorsing doen vir uitstallings in museums van die Suid-Kaap en Klein-Karoo.
Sy was verantwoordelik vir uitstallings by onder meer die Dias-, George- en CP Nel-museum in Oudtshoorn, en was ook behulpsaam met museumversamelings in verskeie van die streek se museums. "Die navorsing oor en identifisering van voorwerpe was vir my baie interessant."
Van 2010 af was sy gestasioneer by die George-museum vanwaar sy dienste aan die streek verskaf het. Labuschagne sê hoewel sy aftree, gaan sy nie stilsit nie. "As my gesondheid my toelaat, sal ek steeds betrokke wees by plaaslike historiese verenigings en aktiwiteite. Tans word ek gereeld genader vir historiese inligting."
Linda Labuschagne (middel voor) saam met kollegas by haar afskeidsgeselligheid.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’