GEORGE NUUS - In hul 65ste huweliksjaar saam loop die liefde en bewondering nog sterk tussen Chris (90) en Yvonne van der Walt (88).
Chris is meer besorg as gewoonlik oor sy vrou wat drie weke gelede skielik 'n operasie moes ondergaan.
Sy het nog nie haar volle kragte herwin nie, maar het daarop aangedring om self al die eetgoed vir hul herdenking op Woensdag 9 Januarie te bak. Chris het net die sjokoladekoek gaan koop.
Die egpaar het 50 jaar in Kimberley gewoon waar Yvonne die bestuurder van Scotts was en Chris by Transnet (destydse Spoorweë) gewerk het.
Oor hulle troudag in die Kimberley-Noord Kerk onthou Yvonne, "Dit was natuurlik wonderlik. Dit wou net-net reën en ek dink toe ons in die kerk was het dit gereën. Toe ons voor die kansel kniel vir die gebed, voel ek naderhand hoe bewe Chris hier langs my."
Sy't begin wonder of hy dalk koue voete kry of siek raak, maar ná die seremonie kon sy net lag toe hy vir haar vertel dat hy die dag vantevore sy skoene laat hersool het. Chris vertel, "Toe ons voor die kansel kniel, onthou ek ewe skielik hoe die prys, 7 en 6 (7 shillings en 6 sikspense) groot in wit kryt onder op die sole geskryf was.
Toe probeer ek die heeltyd my voete so onder my intrek dat die gemeente dit nie kan sien nie. Agterna toe ek kyk, was dit natuurlik afgeloop en ek het besef die inspanning voor die kansel was verniet."
"Toe ons buite die kerk kom, het die son geskyn. Dit was 'n mooi dag, hy was mooi en als was so mooi," vertel Yvonne.
Hul onthaal was in die Savoy-hotel en dit het 7 en 6 per kop gekos, dieselfde as Chris se nuwe skoensole.
Die Van der Walts op hul troudag. Yvonne het haar trourok self gemaak.
Vieruur die middag is hulle met die trein na Oos-Londen waar hulle in 'n hotel tuisgegaan het. Op pad in die trein het Yvonne 'n erge kopseer ontwikkel. Chris het by 'n stasie uitgeklim om iets vir haar te gaan soek. "Toe koop hy vir my 'n koeksister," vertel sy. Die twee verduidelik ondeund dat Chris by haar wou weet of die kopsere nie bietjie vroeg begin nie.
Vyf jaar later is hul dogter, Christelle Smit, die bekende dansskooleienaar in George, gebore. Sy is met Gavin getroud. Hul dogter, Philippa, woon in Kanada saam met haar man Albert.
Chris kan nie nou meer sy geliefkoosde hout- en sweiswerk doen of visvang nie, maar hy skilder graag, help kosmaak en versorg hul blomryke tuin. Hy kan ook borduur.
Die ewe handige Yvonne het haar eie uitrustings en hoede gemaak. Haar trourok was haar eie skepping. Voor sy in is hospitaal toe, was sy juis besig om vir haarself 'n pakkie te maak. Sy is nog 'n aktiewe lid van die Vroue-landbouvereniging (VLV) en het onlangs 'n knopie vir haar 25ste jaar as lid ontvang.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'