GEORGE NUUS - Twee mense wat hulle nie laat onderkry deur die algehele inperking nie, is Rudy Lombard (52) van George en sy verloofde, Yogi Steyn (41) van Mosselbaai.
Net 'n paar uur voor die inperking op 27 Maart in werking getree het, het hulle verloof geraak.
Rudy, wat skilder en betrokke is by die Vereniging van Mond- en Voetskilders, woon reeds meer as vier jaar in George. Yogi woon al die afgelope 11 jaar op Mosselbaai. Sy skilder ook en is 'n vryskut-kunsonderwyser.
Hulle het mekaar verlede jaar in Julie ontmoet toe Rudy 'n skildery by Yogi gekoop het. Daarna het hulle kontak gehou en sedertdien gesels hulle elke dag.
Sowat drie weke gelede het Rudy die verlowing haarfyn begin beplan.
"Ek moes eers haar ma en seun, Tyler, se toestemming kry, maar ek het nooit gesê wanneer, waar of hoe dit gaan plaasvind nie, ek hou daarvan om Yogi met klein dingetjies te verras," vertel hy.
Wat hom die meeste beïndruk van Yogi, is dat haar liefde vir God so groot is. "In ons twee se lewens kom God heel eerste."
"Ons kan lank oor God en godsdiens gesels, maar ook oor alledaagse dinge en ons toekoms saam as 'n gesin. Yogi se glimlag is aansteeklik. Ons hoef net vir mekaar te kyk, dan smile ons van oor tot oor."
Vir Yogi was die verlowing 'n verrassing. Oor Rudy sê sy: "Hy is my beste vriend en die ligpunt van elke dag. Sy goeie hart en liefde vir ons Hemelse Vader, hy is 'one of a kind' en vol liefde."
Beide is dit eens dat die inperking uitdagings stel en dat die verlange groot is. Die laaste keer wat hulle mekaar gesien het, was enkele ure voor die inperking in werking getree het. Hulle bel mekaar of gesels daagliks per video-oproep.
"Dit is moeilik, maar ons sterk geloof in God dra ons deur elke dag. Ons fokus baie op die positiewe en ek glo deur middel van tegnologie help dit met die verlange, maar glo my dis nie aldag maklik nie. Ek dink om besig te bly maak die lang wag ook bietjie makliker," sê Rudy.
Hulle sien uit na die opheffing van die inperking.
En 'n troudatum? Sodra hulle mekaar weer fisies te sien kry, sal hulle op 'n datum besluit. Die plan is om dan hul eiendomme te verkoop en saam 'n huis te koop.
Yogi Steyn wys haar verloofring.
Die verlowing
Rudy se vriend Christo, het saam die verlowing beplan. "Hy het behoorlik 'n paar keer my senuwees op hol gehad oor Yogi se verloofring en my siel uitgetrek," het Rudy gesê.
Op die dag van die verlowing het Rudy met 'n bos rooi rose by Yogi se woonplek opgedaag. Hy het eenkant vir Tyler toestemming gevra om met sy ma te trou. Yogi het toe steeds niks vermoed nie.
Rudy het ook 'n wit roos gekoop en met Christo en Tyler se hulp, Yogi se verloofring daaraan vasgebind.
"Ek het plek bespreek by Ponto's Grill op Mosselbaai. Daar het ek 'n gedig in Engels vir haar voorgelees en Tyler het die wit roos aan Yogi oorhandig.
"Dit was vir haar 'n groot verrassing en Tyler het my gehelp om die verloofring aan Yogi se vinger te sit. God het op daardie spesifieke oomblik Sy ware liefde tussen ons twee volkome bevestig."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'