TUINROETE NUUS - 'n Tyd van groot uitdagings en aanpassings, maar ook waardevolle lesse. Dit is die boodskap van inwoners bietjie meer as 'n jaar nadat inperking die eerste keer as gevolg van die Covid-19-pandemie ingestel is.
Die eerste streng inperking het op 27 Maart 2020 inwerking getree, maar is sedertdien verslap en aangepas.
Bevin Fortuin, oud-Springbok, het gesê dit was en is vir almal 'n moeilike tyd. Veral vir mense wat direk geraak is deur sterfgevalle of wat self siek geword het. In die tyd het hy besef die lewe is bitter kort. Die een oomblik kon familie nog saam kuier en daarna nie. "Ek persoonlik het geleer om die beste van elke dag te maak."
Bevin Fortuin
Alani Voigt, bestuurder van Tuiniqua-versorgingsentrum, het gesê dit was 'n moeilike jaar in die lewe van 'n bestuurder van 'n sentrum vir ouer persone. Op persoonlike vlak het sy geleer dat wat voorheen half irrelevant gelyk het, baie belangrik is soos tyd saam met geliefdes.
Alan Voigt
Dr. Willie Cilliers, voorsitter van die AHi Wes-Kaap, het gesê die finansiële verliese in die ekonomie was geweldig groot en mense moes innoverend aan alternatiewe wyses dink om 'n inkomste te genereer. Hy het geleer dat 'n positiewe ingesteldheid baie belangrik is want 'n negatiewe ingesteldheid bring mens nêrens.
Kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisie-woordvoerder, het gesê dit het hoë eise aan wetstoepassers gestel. Met betrekking tot wetstoepassing was dit onbekende terrein. Persoonlik glo hy dat dit 'n ekstra risiko vir die polisie was omdat hulle aan die voorpunt gestaan het.
Kapt. Malcolm Pojie
Ds. Pieter van Santen van die NG Tuinedal-gemeente, het gesê dit was aanvanklik geweldig ontwrigtend want dit het mense se leefwêreld op sy kop gekeer. Op 'n persoonlike vlak het hy geleer dat, "saam is ons beslis beter as een." Vrees hoef mens nie te verlam nie. "Dit kan jou ook aktiveer. Ten spyte van ... God bly in beheer."
Ds. Pieter van Santen
Flip de Swardt, oudburgemeester, het gesê daar was tye van eensaamheid en alleenheid. Mense moes dit aanvaar. Dis die nuwe normaal. Die gebeure het vir hom die mens se nietigheid voor die Skepper beklemtoon.
Flip de Swardt
Leon van Wyk, George se burgemeester, het gesê mense wil sosiaal verkeer. Dat hulle dit nie meer kon doen nie, het dit vir hulle moeilik gemaak en 'n element van spanning het ontstaan. Daar was groot veranderinge in die ekonomie soos byvoorbeeld in die toerismebedryf.
Leon van Wyk
Mense het ook van hul huise begin werk. In 'n mate het mense almal aangepas. Daar is mense wat seergekry het en selfs hul werk verloor het.
Die gebeure het gewys dat mense dinge anders kan doen soos byvoorbeeld aanlyn aankope.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'