Gallery
GEORGE NUUS - Twee bekende polisiemanne, wat 37 jaar gelede saam by die polisiediens aangesluit het, ao. Clarence Lesibanie en lt. Anthony Percy, is uiteindelik op hul langverwagte en welverdiende vakansie na hul uittrede op 30 Junie.
Kollegas van Clarence Lesibanie het hom verlede Donderdag tydens 'n ontbyt by die Wilderness Hotel gegroet.
Sy vrou, Pam, met wie hy in 1993 getroud is en wat ook voorheen in die polisie was, en hul kinders Clark en Caryn, was ook teenwoordig. Met sy aftrede was Lesibanie werksaam by die plaaslike kriminele rekordsentrum (PKRS).
Hy het op 8 April 1986 by die polisie aangesluit en het as student in Knysna begin werk. 'n Jaar later begin hy sy loopbaan by Conville-polisiestasie as konstabel in die aanklagkantoor waar lt.
AP Meyer toe die stasiebevelvoerder was. Daarna was hy by sigbare-polisiëring en misdaadvoorkoming werksaam. Dit was eers op 2 Mei 1999 wat hy by PKRS begin werk het, dieselfde dag wat sy dogter gebore is. Sy seun is op 8 April 1994, agt jaar nadat hy by die polisie aangesluit het, gebore.
FOTOGALERY: Bekende polisiemanne tree af
In sy jare by PKRS het Lesibanie, honderde tonele, moorde, verkragting, selfdoodtonele, ongelukke en huisrowe om 'n paar te noem, bygewoon. Hier moes hy vingerafdrukke neem, tonele op sy kamera vaslê, planne van tonele optrek en identikits saamstel.
Clarence Lesibanie saam met sy gesin, van links: Clark en sy vrou, Amy, Clarence, Pam en Caryn.
Hy moes ook hofverrigtinge bywoon om getuienis te lewer oor sy versameling van bewysstukke op tonele.
Lesibanie sê terwyl elke toneel mens aanraak, sal die Rheendal-busramp waar 14 skoolkinders en die busbestuurder gesterf het, hom bybly.
"Kinders en vroue lê my baie na aan die hart wat so aan hulle einde kom."
Hy sien uit na sy aftrede sê Lesibanie, want nou gaan hy lekker rus en baie toer.
Lt. Percy, wat ook by Lesibanie se afskeidsfunksie was, het op 14 Mei 1986 by die diens aangesluit. Hy het die volgende dag by George-polisie as student begin werk en later dieselfde jaar sy opleiding by die kollege in Bishop Lavis in Kaapstad voltooi.
Percy is na sy opleiding terug verplaas na George waar hy eers skofte en later by misdaadvoorkoming gewerk het.
In 1989 is hy tot sersant bevorder en kort daarna is hy na die George-speurdiens, waar hy ernstige misdrywe ondersoek het. In 1992 is hy op eie versoek na Pacaltsdorp-polisie oorgeplaas waar hy onder andere skofte gewerk het, hy was skofbevelvoerder, misdaadvoorkomingshoof en later speurhoof.
Een van die sake wat hom altyd sal bybly is die van Kelly-Ann Buys, 'n 5-jarige dogtertjie van Pacaltsdorp wat deur haar oom uit haar bed ontvoer, verkrag en vermoor is. Die beskuldigde is later 65 jaar tronkstraf opgelê.
In 2011 word hy van kaptein na luitenant bevorder en neem 'n pos by die Tuinroete-gebiedskantoor waar hy tot met sy aftrede diens verrig het.
Percy sê hy geniet sy vroeë aftrede en doen nou dinge waarvoor hy nooit tyd gehad het nie.
Geniet die aftrede gents, alles wat mooi is vir julle vorentoe. Baie dankie vir julle diens aan julle gemeenskappe!
Lesibanie (middel) saam met sy kollegas.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’