GEORGE NUUS - Die Suid-Kaap Fynproewersgilde en gaste is op 2 September op Botlierskop bederf met die privaat wildsplaas se asemrowende natuurskoon en ‘n uithaler vyfgangmaaltyd voorberei deur die talentvolle sjefs Craig Gouvea en Leon de Kock.
Beide sjefs het hul eie spesialiteitsveld en het hulle spysenierservaring plaaslik, maar ook internasionaal opgebou. Op hierdie dag het hulle geen steen onaangeraak gelaat om hul beste vir die gilde te demonstreer en voor te sit nie.
Die eerste gereg was ‘n geurige gorgonzola en geroosterde blomkool-sop bedien met ‘n mini-crostini. Hierdie was dadelik menigte gaste se gunsteling. Hierna is die gaste touwys gemaak in die geheime van ‘n perfekte pasta en het die geleentheid gehad om die eindproduk te proe toe stadig gebakte beeswang-tortellini bedruip met ‘n pikante koljandersousie bedien is.
As derde gereg is bloedlemoen-sorbet bedien en die gaste was gereed vir die hoofgereg: kwartels opgestop met spek, bloubessies asook esdoringstroop en bedien met ‘n whiskey en suurappel-bottersous. Sjef Leon het van hierdie geleentheid gebruik gemaak om die vroue te leer hoe om pluimvee op die korrekte manier te ontbeen.
‘n Groot gunsteling was die nagereg, piesang-parfait bedien met geroosterde amandels, rooibosroom en kardemombros. Na hierdie bederf ete het almal geweet waarom Botlierskop se restaurant bekend is vir sy lekker-eet spyskaart.
Die geregte is gekomplementeer met keurwyne uit die kelders van Boplaas Cape Portuguese White Blend, Merlot, Toriga Nacional en Muskadel.
Die Suid-Kaap Fynproewersgilde hou gereelde kosdemonstrasies saam met van die beste sjefs in hierdie omgewing. Indien iemand meer wil weet van die organisaie of as lid aansluit, kontak Santie van Vuuren by 082 461 0777 of Ena Jacobs by 082 416 5304.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'