GEORGE NUUS - Tannie Greta Gericke, George se mees geliefde en geëerde inwoner, is gisteraand, Donderdag 29 November, omstreeks 20:00 in haar plaashuis op Die Bof naby Pacaltsdorp oorlede.
Tannie Greta, wat op 12 Oktober haar 100ste verjaarsdag gevier het, was met haar dood omring deur vier van haar ses kinders.
Haar dogter, Elisabeth Potgieter, sê die familie en vriende is ongelooflik bedroef, maar dat hulle vertroosting vind in al die wonderlike herrinneringe. “Haar invloed was onmeetbaar en haar voetspore lê oral.”
Begrafnisreëlings is reeds getref en die diens word Saterdag, 15 Desember om 11:00 by die NG Kerk Tuinedal in Palgravestraat gehou. Potgieter sê daar is op dié datum besluit om roubeklaers van dwars oor die land asook die buiteland genoeg tyd te gee sodat hulle die diens kan bywoon.
Tannie Greta word oorleef deur ses kinders, 27 kleinkinders, 31 agterkleinkinders en een agter-agterkleinkind. ‘n Tweede agter-agterkleinkind, word Woensdag gebore.
Group Editors en George Herald het deur die jare gereeld oor Tannie Greta berig gedoen en sal George se eie Malva-tannie ontsettend baie mis. Ons is saam met die familie bedroef. Sy was tot onlangs nog by verskeie gemeenskapsprojekte betrokke en laat ‘n ontsaglike leemte op alle terreine in George.
George Herald sal volgende Donderdag ‘n volledige huldeblyk aan dié merkwaardige vrou publiseer.
Tannie Greta saam met voormalige George Herald-joernalis, Pauline Lourens. Die foto is op haar 96ste verjaarsdag geneem.
Lees 'n verwante artikel: Tannie Greta se lewe met Eeufees gevier
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'