GEORGE NUUS - Nog 'n legendariese opvoeder en baie bekende bemarker van skoonheidsprodukte in die streek, Connie Puren (87), het finaal gegroet toe sy verlede Maandag weens 'n hartaandoening oorlede is.
Connie, soos sy alombekend was, het in Tuiniqua gewoon toe sy hartprobleme ondervind het. Daarna het sy saam met haar jongste dogter, Illze Lotz, in Sedgefield gewoon en goed herstel, maar nog 'n terugslag het haar in Groenkloof laat beland waar sy oorlede is.
Behalwe die onderwys en bemarking het sy en haar gewese man, Pierre, ook wye bekendheid verwerf en was baie gewild as die eienaars van die destydse Garden Route Hotel in Langenhovenweg.
Sy was by uitstek 'n mense-mens wat 'n geweldige wye vriendekring gehad het en baie lief was vir gesels en sosiale samesyn.
Sy is in Port Elizabeth gebore en het in Despatch grootgeword. In haar st. 7 jaar het hulle na 'n plaas in die Uitenhage-omgewing verhuis, maar sy het steeds by Hoërskool Despatch skoolgegaan waar sy in matriek hoofdogter was.
Na haar onderwysstudies in Graaff-Reinet het sy aanvanklik in Middelburg (Kaap) skoolgehou en later 'n pos aan Laerskool George-Suid aanvaar.
Na verskeie jare aan die skool het sy 'n pos aanvaar aan die Laerskool Dieprivier in Woodville waar sy tot haar aftrede skoolgehou het.
Kinders en hulle opvoeding was haar passie en sy het nie geskroom om die ekstra myl vir hulle te stap nie. So het haar gewildheid onder veral die ouers deurgaans toegeneem. Sy was ook betrokke by kerke en liefdadigheid.
Sy laat twee dogters en 'n seun asook vier kleinkinders agter.
Die datum vir haar troosdiens was teen druktyd nog nie bekend nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'