Gallery Update
GEORGE NUUS - Tientalle leerders het Saterdag 9 Junie die leesmarathon by Eagles Nest Ministries in Pacaltsdorp bygewoon. Volgens Beverley McKelly, voorsitter van plaaslike Sommer Net Ons ATKV-tak, was die doel van die leesmarathon om 'n liefde vir lees by die leerders te kweek terwyl hulle nog jonk is. "Die doel van die leesmarathon is om die kinders van Pacaltsdorp aan te moedig om te lees. Ons glo dat kinders wat goed lees die selfvertroue het om goed te leer en sodoende beter te presteer."
Graad 1 tot 7-leerders van Delville Park Primêr, Pacaltsdorp Primêr, New Dawn Park Primêr, en kleuters van Eagles Kidz het die leesmarathon bygewoon. Ouers en onderwysers het ook die leesmarathon bygewoon.
Die kortverhale wat die leerders gelees het, het gehandel oor die verantwoordelikheid wat die mens het om die omgewing te bewaar en om 'n omgee gesindheid teenoor jou medemens te hê. Elke leerder het 'n sertifikaat vir hulle deelname ontvang.
Die leesmarathon is aangebied deur Sommer Net Ons in samewerking met George-munisipaliteit en die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD).
Janine Adams, fasiliteerder, het die gr. 1 tot 3-leerders se groepleessessie gelei.
Roger Jacobs, hoof van gespesialiseerde leerder- en onderwyserondersteuning, het 'n motiveringstoespraak gelewer. Ander vermaak het optredes deur Hakkiesdraad Hartman en Musisean, ingesluit. Hartman het die leerders aangemoedig om te lees, "Laat ons lees en ons kennis behou."
McKelly sê die leesmarathon dien ook as bewusmaking vir 'n mobiele biblioteek van Sommer Net Ons wat binnekort in Pacaltsdorp op die been gebring word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'