Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Om saam met hul babadogtertjie Tiana Arries te kan lees, is kosbare tyd saam, vertel Victor en Berildene Arries. Die paartjie van Parkdene sê hulle het albei 'n groot liefde vir lees en wou dit aan hul jongste oordra.
Hulle het ook twee ouer dogters, 12 en 19. "Dis die eerste keer wat ons ons liefde vir lees so vroeg deel. En ons kan reeds die verskil agterkom in die woorde wat sy verstaan en die klein woordjies wat sy kan sê."
Victor sê hy het eendag boeke by Conville-biblioteek gaan uitneem en wou vir klein Tiana, wat toe net agt maande oud was, 'n boekie of twee uitneem. Hy wou dit sommer op sy naam doen, maar die bibliotekaresse het gesê hy kan haar inskryf. En so het Tiana die jongste lid van die biblioteek geword.
Nou op een jaar en drie maande blaai sy al self die bladsye om en luister aandagtig as pa of ma vir haar lees. "Ons het gehoor daar het ander ouers ook gekom om hul babas in te skryf. Ons is bly dat so 'n positiewe aksie so gou posgevat het," sê hulle.
Dis Victor en Berildene se liefde vir lees wat hulle graag wil oordra aan klein Tiana.
Kyk 'n video hieronder.
Victor en Berildene sal tyd maak oor naweke of saans voor slapenstyd om 'n storie te lees. "Dit is my gunsteling tyd saam met haar. As werkende ouers is dit nie altyd maklik nie, maar ons geniet dit vreeslik."
Berildene sê sy kry self nie baie tyd om te lees nie, so om vir Tiana te lees, maak op daarvoor. Hul twee ouer dogters hou ook van lees, maar doen dit liewer op sosiale media.
Victor sê hy koop deesdae boeke vir Tiana omdat daar ongelukkig net 'n klein verskeidenheid boeke by die biblioteek is, of neem boeke uit wat vir kleuters bedoel is. Hy sal graag 'n klub wil begin waar ouers hul kinders se boeke kan uitruil. Hy meen dan lê die boeke nie en stof opgaar of verniel as die kind verby daardie fase is nie.
Tiana Arries met van haar boeke.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'