GEORGE NEWS - Sommer Net Ons ATKV in Pacaltsdorp bied op Saterdag 27 Julie 'n leesmarathon aan vir leerders van gr. R tot gr. 7.
Dit vind plaas van 09:00 tot 12:00 plaas by Eagle's Nest in Olympicrylaan.
Sommer Net Ons het in Junie verlede jaar vir die eerste keer 'n leesmarathon aangebied waaraan sowat 70 kinders deelgeneem het.
Met vanjaar se tema wil Sommer Net Ons die groeiende tendens van afknouery deur boelies in skole aanspreek.
"Ons wil kinders aanmoedig om barmhartig, liefdevol en behulpsaam te wees, en 'n vriend of vriendin te wees vir kinders wat deur ander kinders en mense weggestoot word," sê Beverley Mckelly, die takvoorsitter.
"Die leesmarathon is 'n leesbewusmakingstrategie om die belangrikheid van lees aan ons gemeenskappe voor te hou. Kinders moet reeds blootgestel word aan leesvaardighede tydens hul vroeë kinderontwikkelingsfases om te verhoed dat hulle later in hul ontwikkeling sukkel. Minder as 40% van die armste kinders kry toegang tot 'n vorm van vroeë leergeleentheid, waarvan die kwaliteit dikwels twyfelagtig is.
"Die lae geletterdheidsvlak in Suid-Afrika, lei daartoe dat kinders vasgevang bly in 'n armoedesiklus. Kinders wat sukkel met lees, sukkel met leer en sal heel moontlik sukkel om deel te vorm van die formele werksmark. Sommer Net Ons in samewerking met Eagle Kidz se 'Vonkel vir 'n Ster'-projek poog om die lae geletterheidsvlak in die Rosedale-gemeenskap aan te spreek sodat kinders wat in hierdie area woon ondersteuning kan kry om die armoede-siklus te begin ontsnap."
Sy sê 'Herbou Suid-Afrika - lees, lees' kan verder gesien word as die slagspreuk vir vanjaar se leesmarathon.
"In President Cyril Ramaphosa se staatsrede in Junie het hy genoem dat as ons wil hê elke 10-jarige in Suid Afrika binne die volgende dekade met begrip moet kan lees, ons die hele nasie moet mobiliseer agter 'n massiewe leesveldtog. Hy het verder genoem dat die intervensies wat ons in die hoër onderwysvlak loods, geen resultate kan lewer as ons kinders nie kan lees nie," sê Mckelly.
Leerders kan inskryf deur Beverley Mckelly te skakel by 071 604 2007 of per e-pos by sommernetonsatkv1@gmail.com.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'