GEORGE NUUS - 'n Graad 10-leerder van Pacaltsdorp Sekondêr het 'n klag van aanranding (gewoon) teen sy skoolhoof gelê nadat hy tydens 'n stoeiery in die hoof se kantoor in die gesig gestamp is.
Hy en nog 'n seun is op 10 Mei na die hoof, Clifton Titus, se kantoor ontbied nadat 'n wolmus uit een van die seuns se sakke weggeraak het.
Die hoof en die gr. 10-leerder, wat daarvan beskuldig is dat hy die mus gevat het, het in 'n stoeiery betrokke geraak waarna die hoof die seun na bewering per ongeluk gestamp het.
Die gr. 10-leerder se weergawe aan sy ma was dat die hoof hom met die elmboog gestamp het. Die seun se ma sê sy was self by die skool en dat die hoof vir haar gesê het dit was per ongeluk, maar dat hy hom teen sy bors getrek het, en nooit met die elmboog geraak het nie.
"Hoe kan jy so baie bloei dat die opsigter die vloer moes kom skoonmaak as iemand jou net teen die bors trek," wou sy weet. Sy het toe 'n polisieverklaring gaan aflê. Volgens die ma wil sy net verstaan wat regtig gebeur het.
Die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) doen ook ondersoek na die voorval nadat die hoof die insident gerapporteer het.
Millicent Merton, 'n woordvoerder van die WKOD sê hulle ondersoek die voorval, maar daar moet ingedagte gehou word dat leerders tans eksamen skryf. Merton sê die voorval van die item wat uit die leerder se sak, sonder sy toestemming gevat is, is by die hoof aangemeld.
Die hoof het glo vir die seun [wat in die gesig gestamp is] gevra om die item terug te gee, wat hy glo geweier het om te doen. "Die hoof het toe probeer om die item terug te kry, en 'n insident het ontstaan."
Kapt. Lorraine Coetzee, die kommunikasiebeampte van die Pacaltsdorp-polisie sê 'n saak van aanranding (gewoon) is op 22 Mei gemaak.
Sy sê niemand is nog in hegtenis geneem nie, en die saak word ondersoek.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'