GEORGE NUUS - Dieselfde fratsgolf wat op Saterdag 16 September die lewe van Jo Hartman (93) van Bloemfontein by Leentjiesklip geëis het, het ook die beeld van Leentjie wat Dinsdag onthul sou word, van haar voetstuk afgeslaan.
Hoekwil-kunstenaar Ian Visser, skepper van die beeld, het dit Saterdag gaan opsit met die oog op die onthulling op 19 September.
Hoewel die beeld weens die watergeweld omgekantel het en oor die parkeerarea meegesleur is, is dit ongeskonde en is dit weer op haar plek staangemaak. Die onthulling sal nou op 'n latere datum plaasvind.
Visser het gesê dit is ironies dat hy 'n leerling was aan Sentraal Hoërskool in Bloemfontein in dieselfde tyd as wat Hartman daar skoolgehou het. Sy was 'n afgetrede wiskundeonderwyser wat saam met haar dogter na die woeste see by Leentjiesklip gaan kyk het.
Hartman het beswyk kort nadat die golf haar getref het. Visser het die NSRI geloof vir hulle vinnige optrede tydens die gebeure. "Hulle het weereens gewys hoe effektief hulle tydens enige ramp kan optree."
Ian Visser in sy ateljee aan die werk aan 'n beeld.
Wil geskiedenis laat herleef
Visser wil Leentjiesklip se geskiedenis en die oorsprong van die naam laat herleef met die skep van die Leentjie-beeld. Dit vorm deel van die viering van Wilderness se 100-jarige bestaan.
Leentjie was volgens oorlewering 'n inwoner van 'n klein bevolking in Wilderness aan die einde van die 19de eeu. Sy het as oesterversamelaar op die rotse gewerk. Haar kêrel het haar vir 'n ander vrou gelos en, verpletter deur die nuus, het sy van die rotse by Leentjiesklip afgespring en verdrink.
Visser sê hy wou iets nuuts skep as 'n besienswaardigheid vir Wilderness vir toekomstige generasies.
"Dit het maande se beplanning, goedkeurings en besluitnemings oor die oprigting en onthulling gekos. Toe word sy uiteindelik die middelpunt in die George-museum tydens die heropening van die museum ná 'n opknappingsprojek daar."
Die beeld is by die museum gehou terwyl voorbereidings vir haar onthulling getref is, 'n proses wat deur Jo Eichweber van die Wilderness-belastingbetalersvereniging (WRRA) gedryf is. Die beeld se oprigting Saterdag was ongeveer 100 jaar na Leentjie se tragiese afsterwe.
Volgens Visser het die beeld teen 16:00 die middag 'n paar aanslae van die fratshooggety weerstaan, maar kort voor 17:00 het die reusegolf haar getref. "Dit was asof die oseaan haar wou terugvat na die see waar sy reeds vir 100 jaar rus."
Hy sê die samewerking van die hele gemeenskap tydens die ramp was ongekend.
"Dit was 'n bewys van die diepliggende omgee wat menste teenoor mekaar kan hê in sulke tye. My droom is dat dieselfde samehorigheidsgevoel en verdraagsaamheid in alle tye, goed en sleg, sal voortleef deur my nalatenskap in die vorm van die beeld. Ek wil graag hê dat sy 'n herinnering sal wees aan dit wat goed is en die liefdevolle samesyn van alle mense."
Visser gaan 'n plaatjie by Leentjie se voetstuk aanbring ter herinnering aan 16 September en Hartman se heengaan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’