GEORGE NUUS - Die 160ste Outeniqua-landbouskou wat in Augustus vanjaar sou plaasvind, is gekanselleer weens die Covid-19-inperkingsmaatreëls.
Landbouskoue mag ingevolge die huidige vlak 4-regulasies nie plaasvind nie.
Volgens skoupresident, Corné Botha, het die skoubestuur alles in hulle vermoë gedoen om die geleentheid te "red". Daar is op 'n stadium oorweeg om dit op 'n latere datum, in Oktober of selfs later in die jaar, aan te bied.
"Daar is egter soveel onsekerheid oor die pad vorentoe met die owerhede wat verwag dat infeksies eers in September sy toppunt gaan bereik dat ons nie weet watter inperkingsvlakke in die opkomende maande sal geld nie.
"Sou ons toestemming kry vir later in die jaar en dan op die nippertjie moet kanselleer omdat die inperking nog nie soos verwag gelig word nie, sal ons die deposito's wat ons aan gaskunstenaars betaal, verbeur," het Botha aan George Herald gesê.
Alle aktiwiteite wat vir vanjaar beplan is, dra oor tot volgende jaar, ook die Pensteek Wêreldkampioenskappe, 'n uitgebreide veteraantrekkeruitstalling en 'n stewige sportprogram. "Ons het nou genoeg tyd om ’n lekker groot skou te beplan."
Visepresident Christo Fourie, het gesê die kansellasie beteken groot verliese aan inkomste vir die stalletjiehouers, kerkorganisasies en 'n aantal opkomende kontrakteurs wat elke jaar spysenierings- en skoonmaakdienste lewer. Kretzenshoop Primêr, wat die koeldrankverkope hanteer het as een van die skool se groot insamelingsprojekte van die jaar, verloor ook broodnodige fondse. Die Agri-werkerkompetisie, een van die hoogtepunte elke jaar, kan ook nie plaasvind nie.
"Ons wil ons meegevoel uitspreek met almal en hulle bedank vir hulle voortgesette steun en dat hulle die las saam met ons dra," het Fourie gesê.
"Die besluit is geneem nie net op grond van die inperkingsmaatreëls se voorskrifte nie, maar ook omdat die veiligheid van ons besoekers en stalletjiehouers vir ons altyd 'n prioriteit is."
Nuwe datum
Die nuwe datum vir die skou is 26 tot 28 Augustus 2021. Geen deposito's is nog vir vanjaar se skou van stalletjiehouers ontvang nie. Borge het volgens Botha hulle volgehoue betrokkenheid by volgende jaar se skou bevestig en die kunstenaars wat sou optree, is ook reeds bespreek.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'