GEORGE NUUS - Laerskool Blanco het hul 170ste bestaansjaar en feesvieringe vanjaar begin met ‘n heerlike steakbraai waar die bekende oudleerling en rugbyspeler, CJ Stander, die spreker en eregas was.
Hierdie beskeie plaasskool het oor 170 jaar gegroei tot die gewilde laerskool wat dit vandag is, en het verskeie bekende en suksesvolle leerlinge opgelewer. Bekende boere soos die Lamprechts, Van Greunens, Standers, Van Rensburgs, Kuylers en die hele Meyer-familie was in Laerskool Blanco.
Bekendes vertel staaltjies
Laerskool Blanco se feesvieringe is volstoom aan die gang en op Donderdag 28 September bied hulle ‘n unieke aand aan waar bekende oudleerlinge en oudskoolhoofde die kans kry om hul humoristiese staaltjies en stories met almal te deel.
Oor die jare het Laerskool Blanco baie bekende en suksesvolle plaaslike asook internasionale persoonlikhede opgelewer en is bevoorreg om hulle die aand daar te hê. Al drie oudskoolhoofde, mnr. Oelofsen, mnr. Swiegelaar en mnr. Sas du Plessis sal staaltjies vertel so ook bekende inwoner en oudjoernalis van die George Herald, Jannie Meyer. Meyer se ouma was onder andere in die 1800’s ‘n onderwyseres by die skool.
Ander storievertellers is die bekende Kuyler-familie, Jannie Stander, die vier Van Greunen-broers, Lamprechts, Van Rensburgs, Meyers, oudonderwysers soos mnr. Peet en juf. Yulanda en nog vele meer.
Oudouers en studente sal ook herinneringe en staaltjies vertel. Stories oor mnr. Swiegelaar se liegmasjien, mnr. Lombard se gevreesde rottang tirade, Oelofsen wat saam met sy studente gerook het, die geheime voerdery vir sy SA gewigstootkampioene, CJ Stander wat oor die pale moes gewigstoot vir oefening, Blanco se spook en veel meel. Hierdie geskiedkundige aand gee Laerskool Blanco ook kans om hul argiewe aan te vul met foto’s en gebeurtenisse.
Kaartjies
Kaartjies kos R50 per person en kan aangekoop word by die skool. Alle oudleerlinge van Blanco word genooi om die skool te kontak en deel te wees van hierdie feesvieringe. Kontak Mary Ann en Elydia by 044 870 7380 of 044 870 7111.
Blanco se groot feesweek vind vanaf 9 tot 13 Oktober plaas.
Leerders wat 170 op die veld uitbeeld saam met skoolhoof Gerhard Ackerman. Foto: Hugo Redelinghuys
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'