Verlede week is verneem dat Sea Kay Engineering se tender van R40 miljoen vir die ontwikkeling van erf 329 opgeskort is omdat hulle maande ná die spertyd steeds nie daarin kon slaag om hul waarborg in te dien nie.
Inwoners vrees nou dat die projek verder vertraag sal word nadat hulle reeds bykans 18 jaar gewag het. Gemoedere onder inwoners hier het dus ‘n laagtepunt bereik.
Volgens Virgill Gericke, voorsitter van die Pacaltsdorp Besorgde Inwoners (PBI), het ‘gewetenlose besluitneming’ die pro-sesse vir ontwikkeling by Erf 325 opgehou.
"Hoekom wag ‘n mens ses maande vir ‘n waarborg? En intussen moet mense in Syferfontein in hokke bly met dakke wat lek in die middel van die winter," sê Gericke.
‘Hande vat en bid’
Die mense van Touwsranten het verlede Sondag ‘n biddag op erf 329 gereël waar begunstigdes, ondersteuners en kerkleiers byeengekom het.
Die geleentheid is gelei deur Anthony Buys met die hulp van onder andere pastoor Wilson Popo van die AGS-gemeente Bergplaas, Eilene Beukes van die AGS Touwsranten en Freddie Beukes van die Volle Evangelie-gemeente Touwsranten.
Woorde van bemoediging het die gemoedere gekalmeer en die sowat 150 aanwesiges nuwe hoop gegee.
"Ons gee nou maar alles oor vir die Meester, want ons mense is nou al moeg gewag," sê Buys.
Bouers hoop vir werk
Die PBI het weer op hul beurt ‘n openbare vergadering belê waar die Bouersvereniging van die PDI (Pacaltsdorp Development Initiative), lede van die Pacaltsdorp Polisie en Openbare Beskerming ‘n stampvol saal toegespreek het.
Begunstigdes en hoopvolle kontrakteurs van Thembalethu het in groot getalle opgedaag.
Die PBI en die Bouersvereniging is tans besig met belangrike onderhandelings met Sea Kay wat beoog om plaaslike bouers by Sea Kay se werksmag in te sluit sodat plaaslike mense ook ‘van die room kan skep’. Volgens Gericke sal hulle hopelik Donderdag ‘n antwoord kry.
Artikel and foto's: Michelle Pienaar
.jpg)
Sowat 150 mense, waaronder begunstigdes vir die laekostebehuisingsprojek op erf 329 in Touwsranten, het Sondag hande gevat en gebid vir ‘n positiewe uitkoms.