Gallery
GEORGE NUUS - Drakensberg Seunskoor wees gewaarsku: Die Suid-Kaap Kinderkoor (SKKK) onder leiding van Jan-Erik Swart, is volstoom aan die werk om te voldoen aan julle aanlynuitdaging om Shosholoza te sing.
Die SKKK het Saterdag 5 Junie, hul eie video-weergawe van Shosholoza op die plaas Pampoenkraal en by die Kaaimansriviermond-treinbrug opgeneem.
Swart het aan George Herald gesê hulle is baie opgewonde nadat hulle 'n asemrowende video-opnamedag beleef het.
"Nietemin moes ons baie harde voorbereidingswerk agter die skerms doen om dié dag 'n sukses te maak."
Alvorens hulle die verfilming kon aanpak, moes Swart 'n unieke weergawe van Shosholoza skep, verwerk, orkestreer en op 'n 32-kanaal klankbaan opneem.
"Daarna het ek verskeie Afrika perkussie-instrumente asook township-jazz elemente binne 'n algehele filharmoniese orkesklank vermeng. Die betekenis van Shosholoza, asook die kulture van die verskillende plaaslike gemeenskappe wat deur ons koorlede verteenwoordig word, het die belangrikste rol in die eindproduk gespeel."
Lede van die Suid-Kaap Kinderkoor (SKKK) onder leiding van Jan-Erik Swart besig met video-opnames. In die agtergrond is die Outeniquaberge.
Vrydagmiddag het intensiewe repetisie plaasgevind. Jacques van der Merwe van Hartland Uitsendings, met Merchant Films-videograaf, Chris Wilson, het Saterdag die verfilming gedoen.
Dit is die eerste van 'n reeks musiek-video's wat die SKKK, in samewerking met Hartland Uitsendings in die nabye toekoms aanpak.
Logistieke uitdagings was daar wel.
"Ons het 'n groot bus benodig om die kinders vinnig en met die nodige sosiale afstand van een filmstel na die volgende te vervoer."
Om die video te skiet moes 'n krag-opwekker na al die filmstelle vervoer word om die klankbaan deur groot luidsprekers te speel. Deurentyd is streng Covid-19-protokolle toegepas en moes daar gesorg word dat die lede aan alle gesondheidsvereistes voldoen.
Lede van die Suid-Kaap Kinderkoor (SKKK) besig met video-opnames Saterdag.
Altesaam 40 koorlede tussen agt en 18 jaar, het aan die verfilming deelgeneem. Hulle moes vroeg aanmeld om teen 08:30 op die plaas Pampoenkraal in hul koordrag, met die Outeniqua-bergreeks in die agtergrond te wees. Hommeltuigskote, panoramiese en nabyskote is afgehandel.
Volgens Swart moes alle apparaat daarna na die Kaaimansriviermond, met sy ikoniese treinbrug verskuif word, waar die koor kaalvoet in die vlak water hul danspassies uitgevoer het.
Die harde werk begin nou. Swart het gesê Hartland Uitsendings redigeer die videomateriaal tot 'n professionele musiekvideo, terwyl plaaslike musici lewendige klankopnames van elke instrument maak.
Hoewel die afsonderlike stemme van koorlede en stemgroepe reeds opgeneem is, moet 'n finale opname van die hele koor in 'n ateljee afgehandel word.
Terwyl die musiekvideo nou voltooi word, begin die SKKK solank aan sy volgende video se musiek oefen, en nooi die SKKK enige beskikbare jong sangers om deel van die SKKK te word en aan hierdie videoproduksiereeks deel te neem.
Skakel Swart by 084 645 9320 om 'n oudisie te reël.
Die video gaan sowat vier minute lank wees en daar gaan gepoog word om dit binne drie tot vier weke in die media asook op sosiale media vry te stel.
Lede van die Suid-Kaap Kinderkoor (SKKK) besig met video-opnames Saterdag by die Kaaimansrivier-treinbrug.
The South Cape Children’s Choir (SCCC) has taken up the Drakensberg Boys Choir’s social media challenge of singing Shosoloza enthusiastically. Under the leadership of artistic director Jan-Erik Swart, they are producing their own version of the much-loved South African ethnic working song. The filming and production of the SCCC’s #Shosholoza Challenge was done last weekend at different venues, including the Kaaimans River railway bridge.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'