GEORGE NUUS - Hoërskool Outeniqua se IMPAK-portefeulje in samewerking met Solidariteit Helpende Hand gaan binnekort 'n 525 km-fietstoer, vanaf George na Worcester, ter ondersteuning vir minderbevoorregtes, aanpak. "Die IMPAK-portefeulje glo as dit nie aan jou vat nie, gee jy nie genoeg nie," verduidelik Elandi Rautenbach (IMPAK-portefeulje organiseerder) die motivering agter die fietstoer. Die fietstoer sal vanaf 23 Junie tot 27 Junie duur.
Die begunstigde wat vanjaar geïdentifiseer is, is Laerskool Herold, wat sowat 30 km buite George geleë is. "Die geld wat ons insamel sal voorsiening maak om 'n preprimêre klas vir Laerskool Herold te bou.
Tans ontvang 14 preprimêre leerders onderrig in 'n 2 m by 3 m-stoorkamertjie.
Die geld gaan ook aangewend word om minderbevoorregte kinders in die omgewing te help," sê Rautenbach.
Die groep bestaan uit 25 leerders en onderwysers wat die fietstoer aandurf. Ses persone sal per skof ry en elke dag sal sowat 100 km afgelê word. Die groep sal verkeersbegeleiding tydens die fietstoer geniet.
"Die fietstoer is vanjaar in sy tweede jaar. In 2016 het die IMPAK-portefeulje ten bate van Caring Daisies se Manna vir ons Boere-projek 'n allemintige R170 000 ingesamel vir boere wat deur die droogte geraak is.
Persone wat 'n bydrae tot die projek wil maak is welkom om "HOOP" na 42266 te SMS en R30 te skenk of die webblad www.backabuddy.co.za te besoek en daar 'n donasie te maak.
Vir meer inligting besoek IMPAK - Hoërskool Outeniqua se Facebook-blad of skakel Rautenbach by 072 261 2871.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'