GEORGE NUUS - Arbeidsbediening Tuinroete het gedurende April 'n finansiële-geletterdheidswerksessie, 'Debt Savvy', vir middelvlak-plaasbestuurders aangebied.
Agt persone het die opleiding bygewoon wat aangebied word in vennootskap met Africa Skills College in George.
Hulle het op Vrydag 14 Mei hulle bywoningsertifikate tydens 'n spesiale geleentheid, waar hul werkgewers ook teenwoordig was, ontvang.
Die program is by SAQA geakkrediteer. Africa Skills-kollege lei die fasiliteerders op en verskaf die materiaal terwyl Arbeidsbediening bemarking doen en dit aanbied. Floors Meyer, konsultant van Arbeidsbediening Tuinroete, was die fasiliteerder van hierdie werksessie.
Die program het gefokus op: Ekonomie - die hartklop van die markplek; persoonlike finansies - inkomste en uitgawe; begroting - opstel en bestuur; bankwese - opening en bestuur van 'n bankrekening; en rentmeesterskap - die regte houding teenoor geld.
Werkgewers wat belangstel om hulle middelvlakbestuurders vir die volgende werksessie in te skryf, kan vir Floors Meyer 'n e-pos stuur by floors@mweb.co.za.
Die groep wat sertifikate ontvang het, van links, voor: Ricardo Klaasen, Samuel Jumat, Cheslin Keyser, Marius Booysen, Anthony Olivier en fasiliteerder Floors Meyer. Agter: Victor le Roux (voorsitter), Sandiso Wotini, Glanville Adams en Deon Gertse.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'