Gallery
GEORGE NUUS - Leerders van St. Mary's Primêr in Rosemoor het die verhoog in die Conville-gemeenskapsaal blink gedans tydens 'n spesiale geleentheid ter herdenking van hul skool se 90ste bestaansjaar.
Dansgroepe van Hoërskool George, Hibernia Primêr, Huis Outenikwa en die Diana Townsend School of Ballet het verlede Vrydag aan die dansvertoning, Generation Next, deelgeneem. Skoolhoofde van Hoërskool George, Rosemoor en Hibernia Primêr en die wyksraadslid van Rosemoor, Vincentius Muller, was onder die eregaste.
Hierdie geleentheid vorm deel van St. Mary's se jaar lange feesviering wat elke kwartaal met 'n spesiale geleentheid gevier word.
St. Mary's Primêr is een van vyf katolieke skole in die distrik. Volgens Bradley Zeelie, 'n oudleerder en dansonnie by sy alma mater, is dit ook die eerste skool in George wat ballet as deel van die skool se kurrikulum aangebied het. "Hierdie vertoning is terselfdertyd 'n huldeblyk aan die skool se dansgeskiedenis en -onderwysers. Die ander skole het in ons voetspore gevolg, " het hy gesê.
As regisseur van die vertoning het Zeelie die skool se ouers bedank vir hul volgehoue ondersteuning van die ontwikkeling van die kunste by hul kinders.
Graad eentjies van St Mary's Primêr in afwagting om as "kokkerotte" op die verhoog te dans. Van links is Cloey Hopps, Bali Mooi, Mary-Kay Booysen, Benalayne Olieslager en Angelique Willemse.
Skoolhoof van St. Mary's Primêr, Laurentius Muller, ook 'n oudleerder van die skool, het vanjaar teruggekeer as prinsipaal. "Dit is vir my baie spesiaal, ek is self katoliek. Ek is gedoop in die Rooms Katolieke Kerk en dit is dus vir my die kersie op die koek om terug te keer na die skool waar alles begin het," het hy gesê.
St. Mary's is 'n openbare skool, geleë op die eiendom van die Rooms Katolieke Kerk. Volgens Muller is dit baie uniek, want die etos van die kerk word steeds by die skool gehandhaaf. Die skool is in 1929 met een opvoeder en 30 leerders begin. Vanjaar, 90 jaar later, beskik die skool oor 29 opvoeders en 'n leerdertal van 960.
Die skool is in die proses om 'n vereniging vir oudleerders te stig en sal binnekort 'n webblad hê (www.stmarysprimary.co.za) vir die doel om kontak met oudleerders te behou. Hulle Facebook-blad is ook in konstruksie.
Op 90-jaar: Van links is Bradley Zeelie, 'n oudleerder en dansonnie van St Mary's Primêr, die skoolhoof Laurentius Muller en voorsitter van die skool se beheerraad, Angela Terblanche. Foto's: Michelle Pienaar
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'