Update
GEORGE NUUS - Die eienaar van Boston's Tavern in Parkdene, Eswill Biehl (43), is op Vrydag 28 September in die Thembalethu-streekhof effektief tot 18 jaar tronkstraf gevonnis.
Biehl is in September skuldig bevind aan die koelbloedige moord op Jeanette October (58) wat oorkant sy taverne in Saturnusstraat gewoon het. Volgens vorige getuies was hulle voor die skietaanval op 28 November 2016 in 'n argument buite die oorledene se huis betrokke.
Buiten die aanklag van moord is hy ook skuldig bevind op 'n aanklag van poging tot moord op die oorledene se seun, sowel as 'n aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Tydens sy getuienis het Biehl gesê sy aksies het uit selfverdediging gespruit. "Ek was by my taverne toe sy my nader geroep het. Ons is in haar huis en sy wou geld leen. Ek het geweier, want sy het nog nie die vorige lening terugbetaal nie. Toe het sy my geklap en gevloek en ek het haar weggestamp."
Volgens hom is hy daarna deur October se twee seuns en nog 'n man wat in die huis was, met 'n graaf en 'n panga toegetakel en met 'n mes in die sy gesteek. Dis toe dat hy die rewolwer uit die holster haal en waarskuwingskote in die huis afvuur. Twee van dié skote het October van agter getref en sy het op die toneel gesterf.
Landdros Pumela Yono het 'n sterk uitspraak tydens vonnisoplegging gelewer. "Gedurende die hele verhoor het hy geen berou getoon nie. Hy glo steeds in sy onskuld en hou voet by stuk dat die voorval uit selfverdediging was. Dit moes nooit gebeur het nie. Hy het tyd gehad om te kalmeer na die oorspronklike stryery, maar hy het die oorledene verder by haar huis, haar plek van veiligheid, aangerand en doodgeskiet. Die samelewing is siek en sat vir hierdie tipe misdade en dit is die hof se plig om toepaslike vonnisse op te lê teen misdrywe van dié aard," het sy gesê.
Op die aanklag van poging tot moord is Biehl twee jaar tronkstraf opgelê. Vir die moord op October het Yono hom 18 jaar tronkstaf gegee en op die aanklag van poging tot moord het hy vyf jaar gekry.
Die vonnisse sal samelopend uitgedien word. Biehl moet ten minste ses jaar van sy tronkstraf uitdien voordat hy vir parool in aanmerking kan kom.
Lees 'n vorige artikel hier: Eswill Biehl tot 18 jaar gevonnis vir moord
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'